Sport

Nasionale landloopproewe in bloedige hitte afgehandel

Atletiek Gauteng-Noord het verlede naweek die amptelike Suid-Afrikaanse landloopproewe aangebied. Die byeenkoms is by die Botaniese Tuine in Pretoria gehou. Hoewel dit bloedig warm was op die dag van die proewe, het dié boomryke park heelwat lafenis gebied op die roete waar die atlete moes hardloop. Die grootste deel van die wedloop is ook op …

Atletiek Gauteng-Noord het verlede naweek die amptelike Suid-Afrikaanse landloopproewe aangebied.

Die byeenkoms is by die Botaniese Tuine in Pretoria gehou. Hoewel dit bloedig warm was op die dag van die proewe, het dié boomryke park heelwat lafenis gebied op die roete waar die atlete moes hardloop.

Die grootste deel van die wedloop is ook op lowergroen grasperke gehardloop, behalwe vir kort dele waar atlete geplaveide paadjies moes volg of oor houtbruggies die waterstrome moes oorsteek.

Die uitslae van hierdie byeenkoms sal Atletiek Suid-Afrika (ASA) in staat stel om ‘n span te kies wat Suid-Afrika by die Suidelike-Afrika-streeklandloopkampioenskap op 15 Februarie gaan verteenwoordig.

Hierdie atlete sal ook in aanmerking kom vir die nasionale span wat in Maart vanjaar na Uganda gaan vir die Afrika-landloopkampioenskap.

Daar sal uit hierdie proewe ‘n nasionale studentespan gekies word vir die studente landloopwêreldkampioenskap, wat ook in Maart in Uganda plaasvind.

Hoewel die byeenkoms oop was vir alle atlete wat wou deelneem, het net Suid-Afrikaanse atlete in aanmerking gekom vir die nasionale span.

Die byeenkoms is begin met ‘n ope pretwedloop van 4km, waaraan atlete van albei geslagte en alle ouderdomme kon deelneem.

Daarna het die senior mans se ope wedloop oor 12km gevolg. Dit is gewen deur die 23-jarige Precious Mashele van Atletiek Gauteng-Noord (AGN) in ‘n tyd van 38:07.

In die senior ope vrouewedloop oor 8km het die 19-jarige Glenrose Xaba van Secunda in Mpumalanga verras toe sy in haar eerste wedloop as ‘n senior onder die meer ervare vroue uitgehardloop het om te wen in 29:11. Thabang Mosiako van Klerksdorp het die junior wedloop vir seuns o.19 oor ‘n afstand van 8km in 25:56 gewen.

In die wedloop vir dogters o.19 het Marné Mentz van die Hoërskool Centurion vir ‘n verrassing gesorg toe sy na die 6km in die eerste plek klaargemaak het in ‘n tyd van 23:56. Mentz het takties puik gehardloop en Robyn Kaltenbrum van Johannesburg, wat basies die hele wedloop voor gehardloop het, oor die laaste 400m verbygesteek en die voortou geneem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button