Tukkies begin Varsitybeker met gelykopuitslag teen UJ
Die verdedigende kampioene, Tukkies, het Maandagaand op hul tuisveld 'n verwoede aanslag van UJ oorleef in hul eerste Varsitybeker wedstryd van die jaar en hulle was gelukkig om uiteindelik met 'n gelykop uitslag darvan af te kom.
Die eerste rondte van die Varsitybekerreeks het Maandag begin en op ’n dag vol verrassings is die verdedigende kampioen ook verras deur die intense aanslag van hul bure oorkant die Jukske-irivier.
Die Universiteit van Pretoria (Tukkies) het egter beter daarvan afgekom as die twee ander voormalige kampioene, wat albei ordentlike pak slae gekry het. Maar dat Tukkies gelukkig was om met 18-elk gelykop te speel teen die Universiteit van Johannesburg (UJ), is ’n feit.
Dit lyk of die Varsitybekerreeks in fases beweeg. Die eerste drie jaar het Maties die toernooi oorheers. Daarna was dit die Tukkies, met Ikeys wat ook goed gedoen het. Vanjaar lyk dit egter of dié toernooi aan die begin van ’n nuwe fase staan, want die meeste van die universiteite speel met nuwe spanne, waarvan die meerderheid spelers nuwelinge in die toernooi is.
Tukkies het ook op die veld gedraf met heelwat nuwelinge, maar weens die teenwoordigheid van ’n paar groot name in hul geledere was hulle tog vooraf in die meeste kringe die gunstelinge. Die Johannesburgers het egter van die heel eerste afskop af met intensiteit ingeklim en daarna nooit werklik hul greep laat los nie.
Net hier en daar het Tukkies hul klas en potensiaal gewys, wat die UJ-manne oorrompel het. Tukkies het veral in die twintig minute voor rustyd, toe hulle twee van hul drie drieë gaan druk het, die greep van UJ effens afgeskud. As hulle later in die seisoen eers behoorlik begin kliek en hulle kan meer permanent speel soos in die tien minute voor rustyd, sal hulle vanjaar baie naby daaraan kom om weer die trofee omhoog te hou. Die fase, wat gelei het tot die beste drie van die dag deur Tukkies se stewige binnesenter, Rohan Janse van Rensburg, het sprankelrugby opgelewer.
As Reniel Hugo en sy manne hierop kon voortbou, sou hulle die wedstryd maklik gewen het. Op daardie stadium moes hulle inderdaad al voorgeloop het, maar die skopskoen van heelagter Warrick Gelant was nie heeltemal opgewasse vir die sterk wind wat gewaai het nie. Hy het twee doelskoppe (wat in Varsitybekerrugby drie punte elk werd is) met skewe doelskoppe gemis.
Met die uitsondering van enkele fases van ’n paar minute elk het UJ die tweede helfte totaal oorheers. Hoewel baie van hulle nie aandadig was aan die skande van verlede jaar se reuse nederlaag in die halfeindrondte teen Tukkies nie, het dit tog gelyk of UJ se bestuur hul manne met wraakgedagtes oor daardie wedstryd gemotiveer het. Hulle het die eerste twintig minute van dié helfte inderwaarheid in Tukkies se kwartgebied geboer, maar ten minste kan die manne van Pretoria trots voel oor hul verdediging wat die een aanval na die ander oorleef het. Hier moet die name van Tukkies se lostrio Roelof Smit, Rudolph Smith en Jono Janse van Rensburg, beslis genoem word. Veral Smit het reuse werk gedoen om die oranje truie van die teenstanders van die doellyn af weg te hou.
Uiteindelik was die tweede helfte punteloos. UJ se losskakel, Jaco van der Walt, het in die doodsnikke van beseringstyd vir oulaas probeer om die wedstryd te wen met ’n strafdoel van meer as 60m, maar dit was van die begin af ’n bietjie te veel gevra in die winderige toestand in die Tuks Rugbystadion.
Geoordeel aan die rugby wat Maandagaand opgedis is, behoort albei hierdie spanne vanjaar weer aanspraakmakers te wees op ’n plek in die halfeindrondtes.
