Danie Venter kry top toekenning
Danie Venter, die Pretorianer wat in September verlede jaar die WBF se nuwe junior swaargewig wêreldkampioen geword het, is aan die einde van 2014 as dié boksfederasie se bokser van die jaar aangewys.
Pretoria se wêreldkampioen bokser, Danie Venter, se prestasies in 2013 het hom nou ’n top bokstoekenning in die sak gebring.
Venter het in September verlede jaar die kersie op die koek gesit van sy “tweede lewe” as beroepsbokser, toe hy Shawn Cox van Barbados in die eerste rondte van hul wêreldtitelgeveg uitgeslaan het om die nuwe Junior Swaargewig wêreldkampioen van die Wêreld Boksfederasie te word.
Venter het die prestasie behaal vier jaar ná sy tweede terugkeer na die bokskryt. Hy het voorheen uitgetree omdat hy ongelukkig was oor die administrasie van die sport.
In 2012 het hy die finaal gehaal van die gesogte ‘Last man standing’ toernooi, waaraan ses van die beste junior swaargewigte in Suid-Afrika deelgeneem het.
By die WBF se prestige toekennings is Venter bo alle verwagtinge in Desember verlede jaar as dié federasie se internasionale Bokser van de Jaar aangewys wat ‘n reuse prestasie is.
Bokslegendes soos Michael Grant (2011) en Evander Holyfield (2010) was albei voormalige wenners van die prys. Marco Antonio Rubio, die briljante veelmalige middelgewigwêreldkampioen van Mexiko, was in 2012 die wenner van die toekenning.
In die verklaring wat die WBF-paneel vrygestel het, sê hulle die volgende oor Venter: “Niemand het verwag dat hy die titel sou wen nie. Maar dit het hom minder as een rondte geneem om Shawn Cox uit te slaan. Cox het voor hierdie geveg in 19 gevegte net twee keer verloor, waarvan een keer in ’n uitstaande geveg teen die Rus, Denis Lebedev. Hy het egter vir Lebedev geskud in daardie geveg.
“Daarom het geen bokskenner vooraf gedink dat Venter in staat sou wees om Cox so vinnig in die eerste rondte van hul geveg van sy voete af te slaan nie. Venter het die bokswêreld verstom met hierdie uitslag. Die wyse waarop hy binne een jaar teruggekom het van sy terugslag in die ‘Last man standing’ toernooi om drie puik oorwinnings na mekaar te behaal en wêreldkampioen te word, maak hom ’n waardige ontvanger van die WBF se Bokser van die Jaar toekenning.”
Pieter de Wet van Reel Steel Promosies onder wie se vaandel Venter deesdae boks het aan Rekord gesê hulle is besonder trots op hul bokser en oortuig dat hy die toekenning verdien. Hy het ook Venter se afrigter, Charles Backhouse, geloof vir sy invloed op Venter se loopbaan sedert sy terugkeer in 2010.
De Wet het gesê hulle besig is om met verskeie partye te onderhandel om groot bokstoernooie in die nabye toekoms in Pretoria aan te bied. Venter sal sy titel vanjaar verdedig en is al hard aan die oefen is vir die geveg.
