Sport

Tuks terug op koers, TUT wen weer

Die rugbyspanne van Pretoria se twee universiteite het Maandagaand albei belangrike oorwinnings behaal in hul stryd om vanjaar onderskeidelik as Varsitybeker- en Varsityskildkampioene gekroon te kan word. * Die Universiteit van Pretoria (Tukkies) het hulself reggeruk na verlede week se gelykop uitslag teen UJ. Hulle het die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) op hul tuisveld …

Die rugbyspanne van Pretoria se twee universiteite het Maandagaand albei belangrike oorwinnings behaal in hul stryd om vanjaar onderskeidelik as Varsitybeker- en Varsityskildkampioene gekroon te kan word. * Die Universiteit van Pretoria (Tukkies) het hulself reggeruk na verlede week se gelykop uitslag teen UJ. Hulle het die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) op hul tuisveld in Johannesburg met 53-8 oorrompel en in die proses sewe drieë gedruk. Tukkies se afrigter, Pote Human, het vyf veranderings aangebring aan sy span wat so teen UJ gesukkel het en dit het skynbaar die regte uitwerking gehad. In die middelveld waar Tiaan Schoeman en Ryan Nell die nuwe gesigte was, het Tukkies beter gevaar met die verspreiding van die bal, terwyl die junior Bokkie, Wiaan Liebenberg, voorlangs ‘n groot verskil gemaak het met sy inklimspel en sy puik verdediging. Die onderskatte buitesenter, Dries Swanepoel, het meer ruimte gekry met die nuwe manne aan sy binnekant en die gevolg was ‘n driekuns van drieë vir hom. Tukkies bevind hulle nou in die derde plek op die punteleer ná hierdie oorwinning. Hulle speel eerskomende Maandag tuis teen die Shimlas. * In Pretoria-Wes het TUT se rugbyspan gewys dat hulle nie deel is van die dwarstrekkery op dié beleërde universiteit se kampus nie. Inteendeel, dit was juis die positiewe rugby wat Andries Truter en sy manne in die tweede helfte uitgestal het, wat hulle in staat gestel het om die manne van Fort Hare uiteindelik met 42-34 te klop. In die eerste helfte het ’n baie taai tweestryd geheers en in ‘n stadium wou dit lyk of Fort Hare te sterk gaan wees vir TUT, omdat hulle albei die vaste skrums en die afbreekpunte oorheers het. Manne soos die haker Attie Joubert, slot Izak Deetlefts en flank Peter Matthews het egter soos ware Vikings teruggeveg teen Fort Hare se aanslag, wat die Pretorianers in staat gestel het om in die eerste helfte op die telbord by te hou. TUT het met elke geleentheid wat hulle die bal in die hande kon kry aangeval en hoewel hulle teen rustyd met 18-20 agter was, het hulle net soveel drieë soos die manne van Mthata gedruk. In die tweede helfte het dit beter met TUT begin gaan, veral toe hulle vars bene in die voorry gekry het. Die Vikings het ook hul dryfwerk van lynstane af effektief begin gebruik en twee van hul drie drieë in die tweede helfte is vanaf hierdie platform af gedruk. TUT se sterte is nou in die lug na hul eerste twee wedstryde in vanjaar se Varsityskildreeks, waarin hulle telkens ook ‘n bonuspunt verdien het deur ten minste vier drieë te druk. Hulle is bo aan die punteleer, maar hul groot toets sal waarskynlik eerskomende Maandag wees, wanneer hulle teen die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) van Bloemfontein speel. Dié wedstryd sal weer op TUT se tuisveld in Pretoria-Wes plaasvind.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button