Jeug en ervaring vir Vodacom Bulls in openingswedstryd
Hoewel die Bulls baie ervaring het in hul span wat gekies is om Saterdag in die eerste SuperRugy wedstryd vandie jaar te speel, hang daar ernstige vraagtekens oor hul agttal se vermoë om by die makro-agttal van die Natallers kers vas te hou.
Die Springbokslot Flip van der Merwe, wat tydens verlede jaar se Springbok -toer na Europa van voor na die middel van die lynstane geskuif het, sal in Saterdag se eerste SuperRugby-wedstryd teen die Sharks ook met die nommer vyf op die rug vir die Bulls opdraf.
As Van der Merwe se slotmaat ,het Frans Ludeke die vurige jong Paul Willemse gekies, terwyl die terugkerende veteraan, Victor Matfield, op die resewebank sal sit om een van hierdie twee manne te vervang as sy dienste benodig sou word. As hy opdraf sal Victor Matfield die Bulls se tweede mees ervare speler in SuperRugby word. Dit sal sy 117e wedstryd wees, met slegs Mornè Steyn (123) wat meer gespeel het. Matfield kan hom by AJ Venter en John Smit aansluit as die land se mees ervare SuperRugby-speler sou hy in sy 125e wedstryd (117 Bulls, agt Cats) uitdraf.
Hierdie skuif deur Ludeke en sy bestuur is waarskynlik gedoen om ’n teenvoeter te vind vir die Sharks se makro-agttal, wat Springbokke soos die Du Plessis-broers, Bismarck en Jannie, Beast Mtawarira, Peter-Steph du Toit, Jean Deysel, Marcell Coetzee en Willem Alberts sal insluit. Willemse is ’n fisieke speler wat daarvan hou om die pap dik aan te maak en dit maak sin dat hy bo manne soos Grant Hattingh en David Bulbring as dele van die span gekies is.
Ongelukkig moes Ludeke-hulle terugval op twee jong en onervare flanke, nadat Arno Botha se jongste kniebesering hom weer vir ses maande uit aksie plaas en Deon Stegmann weens ’n liesbesering ook nie oorweeg kon word nie.
Die 20-jarige Jacques du Plessis het verlede jaar tydens die Curriebeker-seisoen nie heeltemal oortuig dat hy gereed is om in senior geledere saam te gesels nie, terwyl die Bulls ’n groot risiko loop om by die afbreekpunte pak te kry met die keuse van Jono Ross as die ander flank.
Ook in die voorry het Ludeke kenners verbaas deur met Werner Kruger op vaskopstut te volhard ten koste van Frik Kirsten, wat op die reserwebank sal sit. Kirsten se skrumkrag sal krities wees teen die Sharks, maar om’n vreemde rede word Kruger steeds bo hom verkies.
Ludeke, het sy troewe in die hande van verskeie opkomende sterre geplaas. Die gereelde kaptein en agtsteman, Pierre Spies, sal ’n span op die veld lei met verskeie spelers wat hul debuut vir die Bulls gaan maak of slegs ’n handvol wedstryde op die vlak gespeel het.
As hulle speelkans kry, sal die reserwes Handrè Pollard, Piet van Zyl, Jacques Engelbrecht, Ulrich Beyers en Marcel van der Merwe hul SuperRugby-debuut vir die Vodacom Bulls maak.
Die Springbok-skrumskakel Piet van Zyl, wat van die Cheetahs aangesluit het, sal van die plaasvervangerbank af speel, soos Jacques Engelbrecht, wat verlede seisoen vir die Southern Kings in die kompetisie uitgedraf het.
Ludeke meen hulle het die regte kombinasies vir die wedstryd gekies .
“Ons het sekere aspekte van die spel uitgeken waar ons wil domineer en ek meen ons het die regte kombinasies gekies om dit reg te kry. Dit gaan ’n tipiese Suid-Afrikaanse derbystryd wees met fisieke konfrontasies en ’n fel stryd rondom die afbreekpunt en die voordeellyn,” glo hy.
“Ons het baie respek vir die Sharks, maar as ons akkuraat is en die regte rugby in die regte areas van die veld kan speel, is daar nie ’n rede waarom ons nie suksesvol kan wees nie. Ons fokus sal beslis op goeie balbehoud moet wees, want die Sharks gaan daarop uit wees om van omgekeerde besit aan te val.”
Hy meen Matfield se insluiting was ’n gegewe. “Ons almal weet waartoe hy in staat is en hy het in die oefensessies en in ons opwarmingswedstryd gewys die vaardighede is nog daar.”
Die Vodacom Bulls-kaptein, Pierre Spies, meen dit pas sy span dat die Sharks as gunstelinge beskou word.
“Hulle kan met reg as een van die toernooi-gunstelinge beskryf word. Daar is ’n klomp ervare Springbokke in hul span, hulle het baie goeie spelers in die besluitnemingsposisies en sal voor ’n toegewyde skare speel. Dit is egter juis sulke tipe uitdagings wat ons as ’n Bulls-span wil aangryp en bemeester,” het hy gesê.
“Ons het sekere doelwitte wat ons wil bereik en het hard gewerk om seker te maak ons kan kompeterend wees teen enige span op enige veld. Die jonger spelers in die span bring ongelooflike energie en dit spoor almal aan. Ek is bly ek speel saam met hulle, eerder as teen hulle.”
Die Vodacom Bulls span is: Jurgen Visser, Akona Ndungane, JJ Engelbrecht, Jan Serfontein, Bjorn Basson, Louis Fouchè, Francois Hougaard, Pierre Spies (k), Jacques du Plessis, Jono Ross, Flip van der Merwe, Paul Willemse, Werner Kruger, Callie Visagie, Dean Greyling. Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Frik Kirsten, Marcel van der Merwe, Victor Matfield, Jacques Engelbrecht, Piet van Zyl, Handrè Pollard, Ulrich Beyers.
