Tukkies neem eerste plek op Varsitybeker punteleer in
Tukkies is die enigste onoorwonne span in vanjaar se Varsitbeker toernooi, ná hul oorwinning van 26-0 oor Shimlas Maandagaand, terwyl TUT op dieselfde aand hul eerste nederlaag van die seisoen gely het.
Die Universiteit van Pretoria (Tukkies), die verdedigende kampioen in die Varsitybeker-rugbytoernooi, is vir die eerste keer in vanjaar se reeks heel bo aan die puntelys, nadat hulle die Shimlas Maandagaand in ’n klipharde wedstryd met 26-0 geklop het.
Dié eindtelling is egter beslis nie ’n getroue weergawe van die spel wat in die Tuks-rugbystadion plaasgevind het nie. Die enigste verskil tussen die twee spanne was dat Tukkies hul kanse beter gebruik het, terwyl hul derde drie in elk geval ’n meevaller was. Tuks se kaptein Reniel Hugo het in die doodsnikke van die wedstryd ’n welverdiende onderskepdrie gedruk, maar hy kon dit alleen regkry omdat die Shimlas op daardie stadium die bal koorsagtig rondgegooi het op soek na ’n gaping om punte op die telbord te kry.
Shimlas is beslis ’n baie beter span as die een wat verlede seisoen gesukkel het om uit die laaste plek op die punteleer te bly. Veral hul vaste vyf is kookwater en hulle sal beslis aanspraakmakers op ’n plek in die halfeindrondtes wees. Ongelukkig vir die Vrystaters kon hul provinsiale losskakel, Gouws Prinsloo, nie gisteraand die spel dikteer soos hy veronderstel was om te doen nie, veral nadat sy voorspelers in die eerste helfte die oorhand oor Tukkies gehad het.
Prinsloo het byvoorbeeld twee keer strafskoppe na die kantlyn geskop en dan die aanvalsgeleentheid verbrou deur die skop agter die hoekvlag uit te skop.
Tukkies se geduld op die aanval is beloon en twee van hul drie drieë het gekom van dryfmaal-bewegings. Die span se verbetering in hierdie aspek oor die afgelope drie weke is ooglopend en dit is duidelik waarom hul afrigter, Pote Human, as een van die beste voorspeler-afrigters in die land beskou word.
Die bestuurspan van die Bulls kan gerus ook by Human gaan kers opsteek, want sy keuse van ‘n losvoorspeler-kombinasie werk puik. Tukkies het Maandagaand met twee flanke gespeel wat ná die bal toe speel en hierdie feit was die grootste enkele verskil tussen die twee spanne. Roelof Smit is ‘n baljagter waarvan daar nog baie gehoor gaan word en dit sal krimineel wees om van hom ’n haker te wil maak, soos die Bulle reeds probeer doen het. Dié man se werkverrigting is puik en hy kan maklik as Deon Stegmann se opvolger by die Bulls grootgemaak word.
Saam met Smit was Wiaan Liebenberg ook ’n staatmaker en dié twee se verdediging was die vernaamste rede waarom Shimlas nooit die doellyn kon oorsteek nie. Die Vrystaters het op ’n stadium die een aanval na die ander op Tukkies se doellyn geloots, maar met Smit en Liebenberg aan die voorpunt, is hulle met genadelose verdediging telkens van die doellyn weggehou.
Die ander lid van Tukkies se lostrio, Rudolph Smith, het weer uitgeblink as puik baldraer en saam met sy kaptein, Hugo, het hulle vele bresse geslaan op die aanval.
Tukkies het in die tweede helfte voorlangs beheer begin oorneem, nadat hulle aanvanklik veral in die skrums gesukkel het. Agter dié agttal het Tiaan Schoeman op losskakel floreer en hy het die spel al hoe meer beheer.
Met hul neuse nou voor op die punteleer, moet Tukkies volgende week die Universiteit van Kaapstad (Ikeys) op laasgenoemde se tuisveld in die Kaap gaan aandurf.
* Intussen het die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) Maandagaand hul eerste nederlaag in die Varsity Skild-kompetisie gely, toe hulle op hul tuisveld teen die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) met 18-39 verloor het.
André Eloff se span speel puik rugby vanjaar, maar SUT is al die afgelope drie seisoene een van die top spanne in hierdie afdeling. Met hierdie nederlaag het TUT na die tweede plek op die punteleer in die Varsity Skild-liga afgeskuif .
