Bulls stop Leeus se opmars op nat Loftus Versfeld
Die Bulls is terug op die wenpad in die SuperRugby-reeks, nadat hulle die Lions se sterte geknoop het in die Jukskeirivier-derby deur hulle met 25-17 op Loftus Versfeld te klop. Dit was geen maklike taak nie, want die Lions is ’n gevaarlike span wat reeds twee ander Suid-Afrikaanse teenstanders in die stof laat byt het …
Die Bulls is terug op die wenpad in die SuperRugby-reeks, nadat hulle die Lions se sterte geknoop het in die Jukskeirivier-derby deur hulle met 25-17 op Loftus Versfeld te klop.
Dit was geen maklike taak nie, want die Lions is ’n gevaarlike span wat reeds twee ander Suid-Afrikaanse teenstanders in die stof laat byt het vanjaar en hulle het beslis Pretoria toe gekom met ‘n plan om hul noordelike bure ook te kelder.
Die Bulls het egter strate beter gevaar as die vorige twee weke en die veranderinge wat aan hul span aangebring is vir die wedstryd het deur die bank gewerk. Dit was veral Francois Hougaard op skrumskakel wat uiteindelik daarin geslaag het om sy swak vorm af te skud en een van sy beste wedstryde in twee jaar te speel, wat ‘n groot verskil gemaak het.
Voeg daarby die puik spel van die Bulls se nuwe losskakel, Jacques-Louis Potgieter, en die wenresep word al hoe duideliker.
Potgieter is een van die stiefkinders van Loftus Versfeld, maar nou lyk dit of hy dalk aan die einde van sy loopbaan die erkenning kan kry wat hy waarskynlik lankal moes gekry het.
As hy op hierdie vertoning teen die Leeus kan voortbou, sal hy sy loopbaan in Pretoria kan afsluit as een van die helde van Loftus, nadat hy jare lank moes rondswerf op soek na erkenning vir sy talent.
Potgieter het sy rugby oorkant Loftus Versfeld by die Afrikaans Hoër Seunsskool geleer, waar hy in 2002 gematrikuleer het. Daarna is hy Potchefstroom toe waar hy ‘n jaar lank vir die Luiperds se junior spanne gespeel het. Die volgende jaar was hy terug in Pretoria, waar hy tot in 2007 aangebly het en die Blou Bulle en Bulls op verskeie vlakke verteenwoordig het.
Hierna het hy twee jaar in Bloemfontein gaan woon om vir die Cheetahs te speel, net om in 2010 terug te keer na die Bulls vir een seisoen. Daarna het hy ‘n jaar lank vir die Sharks gespeel, voordat hy van 2012 af tot ‘n paar weke gelede in Frankryk vir spanne soos Bayonne en Dux uitgedraf het.
Hy is einde Januarie vanjaar deur die Bulls by Dux uitgekoop om as losskakel te kom uithelp en nou lyk dit of hy hier kort voor sy 30s verjaardag uiteindelik die erkenning in Pretoria kan kry wat hom lankal toekom.
Potgieter en Hougaard se goeie vertonings teen die Leeus is ook moontlik gemaak deur die goeie spel van die Bulls se voorspelers, wat veral in die vaste fasette stewig vertoon het. Die lynstane was ‘n bron van goeie balbesit, terwyl hulle veral in die eerste helfte ook nie te sleg in die skrums gevaar het nie. By die afbreekpunte is daar egter nog werk om te doen, want die Leeus het daar koning gekraai.
Die Bulls se voorspelers was egter goed genoeg om aan Hougaard en Potgieter die geleentheid te gee om in die gure reënweer waarin die wedstryd gespeel is met goeie aanvallende skopwerk vorentoe te speel en momentum te bou.
Die Leeus kon in die nat toestande nooit werklik aan die gang kom nie, veral omdat hulle gewoonlik baie staatmaak op hul vermoë om die bal rond te gooi in teenaanvalle. Die nat bal was egter vir hulle ‘n terugslag en hulle het gesukkel om ‘n plan-B in werking te stel.
Vir die Bulls het Jan Serfontein gedruk, terwyl Jacques-Louis Potgieter met ‘n doelskop, vyf strafdoele en ’n skepdoel geslaag het.
Stefan Watermeyer en Willie Wepener het twee identiese drieë vir die Leeus gedruk, nadat hulle albei skoppe van die Bulls afgestorm het. Marnitz Boshoff het twee doelskoppe en ‘n strafdoel bygevoeg.
