Pukke onttroon Tukkies in gietende reën
Die Universiteit van Pretoria (Tukkies), se rugbyspan was die laaste onoorwonne span in vanjaar se Varsitybeker toernooi, maar na Maandagaand se nederlaag van 0-18 teen die Universiteit van Noordwes (Pukke) is hulle die status én hul eerste plek op die punteleer kwyt. Hoewel rugby een van die min sportsoorte is wat basies in enige weerstoestande …
Die Universiteit van Pretoria (Tukkies), se rugbyspan was die laaste onoorwonne span in vanjaar se Varsitybeker toernooi, maar na Maandagaand se nederlaag van 0-18 teen die Universiteit van Noordwes (Pukke) is hulle die status én hul eerste plek op die punteleer kwyt. Hoewel rugby een van die min sportsoorte is wat basies in enige weerstoestande gespeel kan word, was Maandagaand se weer beslis nie die ideale omstandighede waarin ‘n mens die toernooi se twee topspanne in aksie sou wou sien nie. Dit het reeds Maandagoggend in Pretoria begin reën, maar kort voor die begin van die wedstryd wou dit lyk of die weer effens opklaar. Maar, die twee spanne het skaars aangetree vir die sing van die volkslied, soos wat dit tradisioneel met Varsitybekerwedstryde gedoen word, toe stortreën weer begin uitsak. Die swaar reën het bykans die hele wedstryd voortgeduur en die toestande het beslis ‘n groot invloed op die uitslag van die kragmeting gehad. Vooraf het rugbyliefhebbers hul lippe afgelek vir ‘n besondere stryd tussen die twee spanne wat hulself tot dusver onderskei het as die gunstelinge in vanjaar se toernooi. Op ‘n droë veld sou daar beslis ook kookwater rugby gespeel kon word, want albei spanne het die vermoë om totale rugby te speel, wat ‘n skouspel tot gevolg kon hê. Weens die reën en gevolglike sopnat veld het die wedstryd toe uiteindelik in ‘n heel ander soort skouspel ontaard. Skielik was tienmanrugby die enigste verstandige opsie en dis hier waar die skaal in die Pukke se guns geswaai het. Hoewel Tukkies oor ‘n baie wedywerende vaste vyf beskik, is hulle Maandagaand oorskadu deur die inklimspel van hul teenstanders van Potchefstroom. Dit was veral die spel van die Pukke se twee slotte, Francois Robbertse en Daniël Jordaan, wat beïndruk het. Hulle het teen twee baie goeie slotte van Tukkies gespeel, maar in die reën het hulle die twee groot name oorskadu. Dan was daar ook die Pukke se woelige lostrio, met Rhyk Welgemoed aan die voorpunt, wat nie ‘n tree teruggestaan het vir die tuisspan se manne nie. Die afwesigheid van Roelof Smit was beslis ‘n gevoelige slag vir die tuisspan. Hy moes die veld ná net ses minute verlaat en dis bekend dat Tukkies se sukses in die verlede baie met sy vorm te doen gehad het. Sonder Smit op die veld het die Pukke na hartelus besit by die afbreekpunte omgekeer. Dit het Tukkies doodgesmoor, veral weens die omstandighede waarin die wedstryd gespeel is. Die Pukke het albei hul drieë behaal deur dryfspel waartydens hulle die bal puik onder beheer gehou het in die nat toestande, terwyl Tukkies telkens hanteerfoute gemaak het as hulle dieselfde taktiek probeer het. Agter ‘n pak voorspelers wat stelselmatig beheer begin oorneem het, kon Johnny Welthagen op losskakel vir die soveelste keer vir Pretoria se rugbypubliek tong uitsteek. Dié lenige losskakel, wat in sy skooldae by Affies nie as goed genoeg beskou is om vir die eerstespan uit te draf nie, is besig om in een van die land se voorste losskakels te ontwikkel en sy kanonvoet was Maandagaand goud werd vir die Pukke. Hoewel Tian Schoeman van Tukkies glad nie sleg gespeel het nie, was Welthagen se afgeronde vertoning in die moeilike toestande ‘n openbaring. Hy het baie goed kop gehou en sy taktiese skopwerk was ‘n getuigskrif oor waarom hy op 19 al vir die junior Bokkies uitgedraf het. Die Pukke is dus aan die opmars na die halfeindstryd met die twee spanne onder aan die punteleer wat vir hulle wag in hul laaste twee ligabepalings. Tukkies is nou tweede op die punteleer, maar drie spanne blaas in hul nekke en hulle sal alles moet uithaal op hul laaste twee ligabepalings teen NMMU en die Maties te wen.
