Sport

Krisis vir Bulls, hoop vir Blou Bulle

Terwyl die Bulls se rugbyspan in Nieu-Seeland sommer in hul heel eerste wedstryd ernstige teëspoed opgetel het wat beslis ‘n invloed op die res van hul veldtog gaan hê, lyk die Blou Bulle se kanse in die Vodacombekertoernooi darem beter, ná hul derde agtereenvolgende oorwinning. Die Bulls se nederlaag van 20-25 teen die Hurricanes kan …

Terwyl die Bulls se rugbyspan in Nieu-Seeland sommer in hul heel eerste wedstryd ernstige teëspoed opgetel het wat beslis ‘n invloed op die res van hul veldtog gaan hê, lyk die Blou Bulle se kanse in die Vodacombekertoernooi darem beter, ná hul derde agtereenvolgende oorwinning. Die Bulls se nederlaag van 20-25 teen die Hurricanes kan beslis ‘n keerpunt van hul seisoen wees. Flip van der Merwe en sy span moes dié een nooit verloor het nie. Hulle het teen ‘n baie middelmatige Hurricanes-span gespeel, maar die Bulls was grotendeels vir hul eie ondergang verantwoordelik. Dit was veral hul vertoning in die eerste helfte wat teleurgestel het. Die Bulls het in hierdie 40 minute lusteloos en belangeloos gelyk en hulle het gesukkel om binne die struktuur van hul normale wedstrydplan te bly. Hul sukkelvertoning is boonop verder in die wiele gery deur swak hanteerwerk en ewe swak verdediging. Die besering van Deon Stegmann in die eerste helfte was ‘n reuse terugslag vir die Bulls en die oomblik toe hy die veld verlaat het Jack Lam van die Hurricanes begin baljaar by die afbreekpunte. Die Bulle het ‘n oorvloed balbesit verloor en kon eenvoudig nie hul stempel op die spel afdruk sonder die bal in die hand nie. Toe Dewald Potgieter kort voor rustyd ook seerkry, was die koeël basies deur die kerk, want die Bulls se vermoeë om in die losspel te kompeteer het hierna eintlik nie bestaan nie. Die Pretorianers het tog steeds karakter getoon deur terug te kom in die wedstryd en kort voor die einde selfs voor te loop, ná Handré Pollard se puik drie. Die wedstryd is egter in die eerste helfte verloor, want die Hurricanes moes nooit teen die einde van die wedstryd in die posisie gewees het om met strafdoele die uitslag te bepaal nie. Intussen is bekendgemaak dat beide Stegman en Dewald Potgieter langtermyn beserings opgedoen het. Die Bulls sal vir ten minste ses weke – en moontlik selfs vir die res van die toernooi – sonder hulle moet klaarkom. Hierdie slegte nuus skep ‘n krisis in die Bulls se kamp, aangesien daar vanjaar reeds by meer as een geleentheid bewys is dat ‘n spesialis baljagter deurslaggewend in hul mondering is. Hoewel Wimpie van der Walt, wat verlede jaar vir die Kings in die Oos-Kaap gespeel het en vroeër vanjaar uit Japan na Pretoria gelok is, ‘n baie goeie speler is, is dit te betwyfel of hy die rol van ‘n spesialis baljagter sal kan oorneem. Die Bulls se bestuur sal dalk dringend moet kyk na een van hul verlore seuns, Marnus Schoeman, wat tans vir Griekwas in die Vodacombekertoernooi uitdraf. ‘n Ander keuse is ook om die deurwinterde baljagter van die suksesvolle span van die Pumas, Corné Steenkamp, nader te trek. Die 32-jarige Steenkamp het baie ervaring en hy is een van die mees onderskatte spesialis baljagters in die land. – Intussen is die Blou Bulle se span in die Vodacombekerreeks weer op koers, nadat hulle die seisoen rampspoedig begin het met twee agtereenvolgende nederlae teen Griekwas en die Pumas. Sedert daardie swak begin het hulle in opeenvolgende kragme­tings met die Goue Leeus, Luiperds en Valke afgereken. Die Blou Bulle, wat puik gelei word deur nog ‘n oud-Kings-speler, David Bulbring, is na hul jongste oorwinning van 54-7 oor die Valke, vierde op die puntelys vir die spanne uit die noordelike deel van die land. Dit beteken dat hulle vir die kwarteindrondte sal kwalifiseer as hulle die huidige posisie kan behou of selfs hoër teen dié leer kan opskuif. Die Bulle is boonop in die gelukkige posisie dat hul laaste twee wedstryde gespeel moet word teen die Griffons en die Limpopo Blou Bulle, die twee spanne wat tans onder aan die puntelys geposisioneer is. Bulbring en sy spanmaats se lot is dus nog in hul eie hande en met volpunte in albei wedstryde kan hulle selfs nog eerste of tweede op die puntelys eindig. Hulle speel eerskomende naweek teen die Griffons in Welkom.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button