Klofies onoorwonne by St. John’s toernooi
Daar is skynbaar geen keer aan die eerste rugbyspan van die Hoërskool Waterkloof in die huidige seisoen nie. Ná hul puik oorwinning oor Afrikaans Hoër Seunsskool verlede week, waardeur die Klofies die tweede keer in drie jaar met dié aartsvyande van hulle afgereken het, het hulle die afgelope Paasnaweek skoonskip gemaak by die St John’s …
Daar is skynbaar geen keer aan die eerste rugbyspan van die Hoërskool Waterkloof in die huidige seisoen nie.
Ná hul puik oorwinning oor Afrikaans Hoër Seunsskool verlede week, waardeur die Klofies die tweede keer in drie jaar met dié aartsvyande van hulle afgereken het, het hulle die afgelope Paasnaweek skoonskip gemaak by die St John’s College se internasionale Paastoernooi in Johannesburg.
Waterkloof het by dié prestigeryke skolerugby toernooi met drie van die land se top rugbyskole, waaronder die gevreeste span van Paul Roos Gimnasium uit Stellenbosch, afgereken.
In hul eerste wedstryd het Waterkloof maklik met Klein Nederburg uit die Boland afgereken deur hulle met 45-19 te klop. Toe kom Paul Roos Gimnasium aan die beurt en ná ‘n spannende wedstryd kon die manne van Waterkloof met 19-13 as wenners van die veld stap.
In hul laaste wedstryd het Waterkloof vir Noordheuwel van die Wes-Rand met 55-15 vermorsel om sodoende een van net twee skole by dié fees te wees om die naweek onoorwonne af te sluit. Die ander onoorwonne span was Hoër Jongenskool Paarl (in die volksmond bekend as Paarl Boys’ High), wat onderskeidelik met St Charles College, Jeppe High en Pretoria Boys’ High afgereken het.
* In die King Edward VII (KES) skool in Johannesburg se Paastoernooi het twee skole van Pretoria, Menlopark en Eldoraigne, ook besonder goed gevaar. Albei dié twee skole se eerstespanne was onoorwonne by die KES-toernooi.
Menlopark het met Grey High School van Port Elizabeth (17-16), Northwood (11-0) en Marlow Landbou (36-3) afgereken.
Eldoraigne se slagoffers was Marlow Landbou (8-6), Hentie Celliers (47-31) en Trinityhouse (51-9)
* Die Afrikaans Hoër Seunsskool se seisoen wil maar net nie lekker aan die gang kom nie. Ná hul nederlaag teen Waterkloof verlede naweek was Affies die afgelope Paasnaweek betrokke by die gesogte Paastoernooi van die Kearsney College net buite Durban, waarheen top skole soos Grey Kolle van Bloemfontein, EG Jansen van Boksburg, Monument van Krugersdorp en Framesby van Port Elizabeth ook genooi word.
Affies het die toernooi Donderdag begin met ‘n oorwinning teen Selborne College (34-12), maar daarna was dit weer afdraande pad vir die “Wit Bulle”. Hulle het Saterdag teen Monument met 36-14 pak gekry en toe boonop Maandag ook die toernooi afgesluit met nóg ‘n drag slae van HTS Middelburg (10-20).
Beide Affies en Waterkloof vertrek volgende naweek na Kimberley vir een van die mees gesogte skolerugby toernooie in Suid-Afrika, die Wildeklawer toernooi vir Superskole. Negentien van die land se heel beste rugbyskole én ‘n uitnodigingspan wat deur die borge gekies word, is by hierdie toernooi betrokke.
Waterkloof sal op Maandag 28 April teen Glenwood van Durban speel, terwyl hul teenstanders op Woensdag 30 April Grey High School van Port Elizabeth is.
Affies se teenstanders by die Wildeklawer toernooi is Paarl Gimnasium (Maandag) en Oakdale Landbou van Riversdal is.
Ander skole wat in die Wildeklawer toernooi vir Superskole betrokke sal wees is Grey-Kollege (Bloemfontein), Outeniqua (George), Noord-Kaap (Kimberley), Monument (Krugersdorp), Maritzburg Kollege (Pietermaritzburg), EG Jansen (Boksburg), Paul Roos (Stellenbosch), King Edward VII (Johannesburg), HTS Drostdy (Worcester), Selborne College (Oos Londen), Boland Landbou (Paarl), Diamantveld (Kimberley) en HTS Middelburg.

Foto: St Johns College
