Sport

Bulls verloor kaptein weens skorsing

Asof die terugslae in die vorm van beserings nie erg genoeg is nie, het nóg ‘n reuse terugslag die Bulls hierdie week getref toe hul kaptein, die Springbok slot Flip van der Merwe, vir drie weke geskors is. Dié skorsing volg nadat Van der Merwe in ‘n dissiplinêre verhoor van SANZAR skuldig bevind is dat …

Asof die terugslae in die vorm van beserings nie erg genoeg is nie, het nóg ‘n reuse terugslag die Bulls hierdie week getref toe hul kaptein, die Springbok slot Flip van der Merwe, vir drie weke geskors is.

Dié skorsing volg nadat Van der Merwe in ‘n dissiplinêre verhoor van SANZAR skuldig bevind is dat hy vir Paddy Ryan van die Waratahs met die arm in die gesig geslaan het.

Die voorsitter van die dissiplinêre kommissie wat Van der Merwe skuldig bevind het is die Australiër, Adam Casselden.

Casselden het daarop gewys dat die straf vir Van der Merwe se beweerde oortreding eintlik vyf weke skorsing is, maar dat hy die Bulls se kaptein se goeie rekord in ag geneem het en daarom op ‘n vonnis van slegs drie weke besluit het.

Dit beteken dat Van der Merwe eers weer op 30 Mei teen die Brumbies op Loftus Versfeld sal kan uitdraf. Hy sal dus, behalwe vir Saterdag se stryd teen die Western Force, ook die Bulls se tuiswedstryde teen die Cheetahs (3 Mei) en die Stormers (10 Mei) misloop. Oor die naweek van 16/17 Mei het die Bulls weer ‘n loslootjie.

Hierdie terugslag kom op ‘n besonder moeilike tyd vir die Bulls, aangesien hulle onder druk is om hul laaste wedstryd op toer te wen as hulle enigsins nog ‘n kans wil staan om die uitspeelrondtes te haal. Die Bulls speel Saterdag in Perth teen die Western Force, wat vanjaar baie goed op dreef is.

Nadat die Bulls se Springbok losvoorspelers, Deon Stegmann en Dewald Potgieter in die eerste wedstryd op toer beseer is, moes Frans Ludeke en sy bestuur reeds een van hul slotte, Grant Hattingh, as ‘n losvoorspeler aanwend.

Hierdie verwikkelinge beteken dat die Bulls Saterdag teen die Western Force sal speel sonder ‘n slot op die reserwebank. Ludeke-hulle het twee losvoorspelers as reserwes gekies en dit kan aanvaar word dat Grant Hattingh waarskynlik as slot-reserwe sal instaan. Victor Matfield sal ook weer die kapteinskap oorneem.

Op haker kry Callie Visagie glo ‘n ruskans en sy plek sal ingeneem word deur Bongi Mbonambi. Laasgenoemde se plek op die reserwebank word ingeneem deur Bandise Maku. As Maku speelkans kry sal hy in sy eerste SuperRugby wedstryd vir die Bulls speel sedert sy terugkeer na Pretoria, waar hy in 2010 ‘n Springbok geword het.

Die weglating van William Small-Smith op die reserwebank om plek te maak vir Ulrich Beyers, wat tot dusver nog nie op die toer oortuig het nie en baie wankelrige vertonings gelewer het, sal ook sommige ondersteuners laat frons. Baie kenners meen dat Small-Smith die tipe speler is wat die Bulls dringend in hul span nodig het om hul middelmatige vertonings te verbeter.

Die Bulls se span vir die wedstryd teen die Western Force is: Jurgen Visser, Akona Ndungane, JJ Engelbrecht, Jan Serfontein, Bjorn Basson, Jacques-Louis Potgieter, Francois Hougaard, Grant Hattingh, Jacques du Plessis, Jono Ross, Victor Matfield (kaptein), Paul Willemse, Werner Kruger, Bongi Mbonambi, Dean Greyling. Plaasvervangers: Bandise Maku, Mornè Mellett, Marcel van der Merwe, Wimpie van der Walt, Jacques Engelbrecht, Rudy Paige, Handrè Pollard, Ulrich Beyers.
Afskoptyd: 11:40 (SA tyd)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button