Rugbyskeidsregters uit Argentinië kuier by Bulle
BlouBul skeidsregters speel gasheer vir Argentyne.
Die Blou Bulle se Skeidsregtersvereniging het die afgelope paar weke gasheer vir twee opkomende jong rugbyskeidsregters uit Argentinië gespeel.
Rugby groei vinnig in dié sokkermal land en, net soos Suid-Afrika, het hulle ‘n tekort aan gehalte skeidsregters om hul senior klubligawedstryde te hanteer.
Deur hierdie skeidsregters na Suid-Afrika te bring en aan hulle hier die geleentheid te gee om top klubwedstryde en selfs provinsiale wedstryde op Vodacombeker vlak te hanteer, word hul ervaring gebou en die blootstelling wat hulle daardeur kry kan vir hulle én vir rugby in Argentinië van groot waarde wees.
Met die hulp van Gerhard Roodt, voorsitter van die Blou Bulle se skeidsregtersvereniging, kon die twee skeidsregters in Pretoria oorbly en van hier af ook verskeie wedstryde in die Varsitybekerreeks bywoon. Hulle was albei beïndruk met die standaard van rugby in dié kompetisie en ook met die wyse waarop die proefneming met twee skeidsregters op die veld verloop het.
