Sport

Sporthoogtepunte vir 10-12 Mei 2014

Hier volg die naweek se sport hoogtepunte vir al die sportliefhebbers.

Die Winter kom nader, maar vir sportliefhebbers is daar hierdie naweek weer baie om na uit te sien. Of jy nou die jas uit die kas moet haal om jou span langs die veld te ondersteun en of jy snoesig voor die TV kan sit en die sport geniet, die naweek bly gepak met aksie.

Rugby

Die eerste deel van die rugbyseisoen vir skole se hoogtepunt breek hierdie naweek aan met die finaal van die Tuksreeks, wat in die Tuks stadion gespeel word. Die verdedigende kampioen, HTS Middelburg, pak Dr. EG Jansen van Boksburg in die finaal. In die uitspeelstryd om die derde en vierde plek sal Garsfontein en Nelspruit in aksie wees.

Die rugby in die Tuksstadion begin reeds om 08:00 en die groot finaal behoort teen 14:30 af te skop.

Intussen skop die gesogte Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria hierdie naweek af. Polisie speel by hul nuwe tuiste in Totiusstraat (die voormalige terrein van die Pretoria Rugbyklub) teen die Naka Bulle, Harlequins speel oorkant die straat in Groenkloof gasheer vir Tukkies, Oostelikes speel teen TUT en Centurion is veronderstel om teen die Silver Valke te speel. Daar is egter sprake dat laasgenoemde aan die liga gaan onttrek, wat waarskynlik aan Centurion ‘n loslootjie gaan gee.

Die Vodacombeker toernooi bereik hierdie naweek sy halfeindrondte en die Blou Bulle het daarvoor gekwalifiseer toe hulle die Cheetahs verlede week in Bloemfontein geklop het. Die Blou Bulle speel dus nou op Saterdag 10 Mei op Loftus Versfeld in die finaal teen die verdedigende kampioene, die Goue Leeus. Afskop is om 16:00.

Later Saterdagaand om 19:00 draf die Bulls teen die Stormers uit in die groot Noord-Suid derby van die SuperRugby reeks op Loftus Versfeld. Die Stormers kan nie meer vir die uitspeelrondtes kwalifiseer nie, maar vir die Bulls is ‘n oorwinning ononderhandelbaar as hulle nog mik na ‘n plek onder die top ses.

Krieket

Die Indiese Premierliga kriekettoernooi (IPL) is ook nog aan die gang en hierdie naweek word daar vier wedstryde gespeel, waarin daar weer Suid-Afrikaners ook in aksie sal wees.

Op Saterdag 10 Mei speel die Delhi Daredevils (JP Duminy en Wayne Parnell) teen Sunrisers Hyderabad (Dale Steyn), terwyl die Mumbai Indians (Marchant de Lange) en die Chennai Super Kings (Faf du Plessis) ook slaags raak.

Sondag kom die wedstryde tussen die Kings XI Punjab (Beuran Hendricks en David Miller) en die Kolkata Knight Riders eerste aan die beurt, terwyl die Royal Challengers Bangalore (Albie Morkel en AB de Villiers) en die Rajasthan Royals (geen Suid-Afrikaners) later teen mekaar sal speel.

Padwedlope

Saterdagoggend vroeg is dit tyd vir die langasems om aan te tree vir die gewilde Jackie Mekler padwedloop wat by Thaba Tshwane in die weste van Pretoria aangebied word.

Drawwers het ‘n keuse van ‘n 10km wedloop of ‘n langer wedloop van 25km, terwyl die minder fikses aan ‘n pretdraf van 5km kan deelneem. Die 10km en 25km wedlope begin om 06:30, terwyl die pretdraf eers om 06:45 sal wegtrek.

Hokkie

Die Vasity Sport hokkiereeks begin nou momentum opbou en hierdie naweek word twee toernooie in hierdie reeks aangebied. Vier van die universiteite (Kovsies, Tukkies, Rhodes en Wits) sal in Bloemfontein op Kovsies se bane teen mekaar speel, terwyl die Maties, Ikeys, UJ en die NMMU-Madibas in Stellenbosch op Maties se bane kragte sal meet.

Die eerste wedstryde begin reeds op Saterdag 10 Mei plaasgevind, maar daar sal die heel naweek én Maandag 12 Mei nog aksie wees.

Tennis

Vir tennisliefhebbers is daar hierdie naweek die klimaks van die Spaanse Ope om na uit te sien. Die aksie sal op SuperSport uitgesaai word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button