Sporthoogtepunte vir 17-18 Mei 2014
Hier volg besonderhede vir die naweek se sporthoogtepunte.

Hoewel nie een van Loftus Versfeld se spanne hierdie naweek in aksie is nie, is daar steeds heelwat belangrike sportgebeure waarna sportliefhebbers kan uitsien.
Rugby
Met die eerste deel van die skolerugby seisoen wat verlede week afgehandel is, begin skolespelers nou konsentreer op die Beeldtrofee. Ook skole wat nie aan die Beeldtrofee deelneem nie, se spanne sal in vriendskaplike wedstryde betrokke wees waar hulle die Bloubul skolekeurders se aandag sal probeer trek, want dis ook weer tyd vir die kies van provinsiale spanne vir die nasionale toernooie wat in die Julie-vakansie sal plaasvind.
’n Paar belangrike derbies vind hierdie naweek plaas. In Pretoria speel die Afrikaanse buurskole in die Ooste, Waterkloof en Garsfontein om 13:15 op Waterkloof se veld teen mekaar. Verlede jaar se stryd tussen die twee skole, wat in die doodsnikke deur Waterkloof gewen is, was een van die jaar se opwindendste skolerugby wedstryde en vanjaar behoort geen uitsondering te wees nie.
Die sukkelende span van Affies sal ook Saterdag in Johannesburg teen King Edward School (KES) probeer om weer op die wenpad te kom, nadat hulle verlede naweek pak gekry het teen Grey Kollege. Pretoria Boys High speel ook in Johannesburg teen een van hul ou vyande, Jeppe Boys High.
Ander wedstryde speel HTS John Vorster tuis teen Zwartkops, Centurion speel tuis teen Menlopark, Montana speel tuis teen Wonderboom, terwyl Overkruin en Gerrit Maritz reeds Vrydagaand kragte gemeet het en Tuine tuis teen Oos-Moot in aksie was.
Die gesogte Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria het verlede naweek afgeskop met veelseggende oorwinnings vir Polisie, Oostelikes en Tukkies, terwyl Centurion ’n loslootjie gehad het nadat die Silver Valke tydelik uit die Carltonliga onttrek het. Hierdie naweek speel Polisie teen TUT, Harlequins speel teen die Naka Bulle en dan vat twee gunstelinge, Centurion en Oostelikes, mekaar aan op Centurion se veld. Tukkies het ‘n loslootjie.
In die SupeRugby toernooi vind daar vier wedstryde plaas waarin Suid-Afrikaanse spanne betrokke is. Saterdagoggend om 09:35 draf die Sharks in Christchurch uit teen die Crusaders. Saterdagmiddag om 17:05 is dit die Stormers se beurt wanneer hulle die Western Force op Nuweland in Kaapstad pak, terwyl die Cheetahs net daarna (19:10) teen die Brumbies in Bloemfontein sal uitdraf. Sondagoggend om 08:05 speel die Lions in Sydney teen die Waratahs.
Krieket
Twee wedstryde word op Sondag in die Indiese Premierliga kriekettoernooi (IPL) gespeel en verskeie Suid-Afrikaners sal betrokke wees. In die eerste wedstryd speel die Chennai Super Kings met Faf du Plessis in hul geledere teen die Royal Challengers Bangalore, wat oor die dienste van Albie Morkel en AB de Villiers beskik.
In die tweede IPL wedstryd van die naweek is dit Dale Steyn se span, die Sunrisers Hyderabad, teen die Kolkata Knight Riders. Laasgenoemde het geen plaaslike spelers in hul geledere nie.
Padwedlope
Op Saterdagoggend 17 Mei om 07:00 spring atlete weg in Aerobics 4 All se Road Safety Run/Walk by die EcoPark sentrum in Centurion. Dié sentrum is deel van die Highveld Bussines Park en dit kan bereik word via ’n afrit vanaf Lencenlaan. Die byeenkoms sal ’n 10km wedloop en ’n 5km pretdraf aanbied.
Hokkie
Die laaste been van die die Vasity Sport hokkiereeks vind hierdie naweek op die bane van die Universiteit van Johannesburg (UJ) plaas. Na die finale ligafase op Saterdag 17 Mei afgehandel is, sal die halfeindrondtes op 18 Mei op dieselfde terrein plaasvind, terwyl die groot finaal ook op Maandag 19 Mei daar gespeel sal word.
Tukkies is tans nog in ‘n verwoede stryd met UJ, Maties en Kovsies gewikkel om eerste op die puntelys te eindig. Dié vier universiteite het almal 20 punte op die puntelys en net die verskil tussen doele aangeteken en doele afgestaan bepaal tans die eerste vier plekke op dié lys. Die laaste rondte wedstryde sal dus bepalend wees en spannende hokkie kan verwag word.
Netbal
Na ’n lang gesukkel het Netbal Suid-Afrika dit uiteindelik reggekry om borge en TV-dekking te kry vir ’n plaaslike professionele netbalreeks.
Dié reeks het reeds die afgelope week afgeskop, maar eerskomende naweek sal al die spanne weer in aksie wees in die Rembrandtsaal op Tukkies se sportkampus. Twaalf professionele spanne vorm deel van die nuwe reeks, wat as die Brutal Fruit Netball Cup bekend sal staan. Die plaaslike span, die Jaguars wat hoofsaaklik sal bestaan uit spelers van Gauteng-Noord, sal Saterdag om 14:00 in aksie wees en weer Sondag om 12:00.
