Sport

Bulls wys teen Brumbies hulle is reg vir uitspeelrondtes

Die Bulls is steeds op koers om die uitspeelrondtes in vanjaar se SupeRugby-toernooi te haal nadat hulle die afgelope naweek oortuigend met een van die top spanne in die reeks, die Brumbies, afgereken het.

“Soos die Bulls vanaand gespeel het kan ek nie sien dat hulle uit die top ses gehou gaan word teen die einde van hierdie reeks nie.”

Hierdie woorde kom nie van een of ander oorywerige Bulls-ondersteuner nie, maar is die mening van die Wallabie-agtsteman en Brumbies-kaptein, Ben Mowen, nadat sy span Vrydagaand ordentlik met 44-23 deur die Bulls geklop is.

Ná hierdie sege het die Bulls tydelik opgeskuif tot onder die top ses op die puntelys, maar weens die ander uitslae die naweek is hulle tans terug in die negende plek.

Die interessante deel van hierdie feit is dat daar tussen die Bulls in die negende plek op die lys en die Waratahs in die tweede plek slegs ses punte verskil is. Slegs die Sharks met hul 44 ligapunte in die eerste posisie kan redelik seker wees van ’n plek in die uitspeelrondtes. Enige vyf van die ander spanne tussen die tweede en negende posisies kan nog deel uitmaak van die top ses wanneer die laaste wedstryde in die ligafase op 12 Julie vanjaar gespeel word.

Eerskomende naweek speel die Crusaders byvoorbeeld tuis teen die Western Force en die Chiefs speel in Wellington teen die Waratahs. Al vier hierdie spanne is tans bo die Bulls, maar indien die Bulls daarin kan slaag om die sukkelende Lions met volpunte te klop in hul tweedstryd op Ellispark, kan sake voor die reses van vier weke reeds só verander dat die Bulls terug sal wees in die top ses.

Enigiets kan ook eerskomende naweek in die wedstryd tussen die Hurricanes en die Blues, wat op laasgenoemde se tuisveld in Auckland gespeel word, gebeur, terwyl die Reds ook hard sal veg om hul swak posisie op die puntelys te verbeter wanneer hulle die Highlanders in Brisbane aanvat.

Ná die Juniemaand-reses moet spanne soos die Highlanders (teen die Chiefs, Waratahs en Crusaders), die Hurricanes (teen die Crusaders en Chiefs) en die Western Force (teen die Blues, Reds en Brumbies) nog almal moeilike hekkies oorkom en die kanse is goed dat hulle elkeen ten minste een keer sal verloor.

As die Bulls dus kan aanhou wen (teen die Lions in Johannesburg, Stormers in Kaapstad en Rebels op Loftus Versfeld) behoort hulle beslis deel te wees van die top ses wat in die uitspeelfase betrokke sal wees. Die Bulls se moeilikste hekkie sal die stryd op 5 Julie in Kaapstad teen die Stormers wees, aangesien die Kapenaars tans weer kookwaterrugby speel.

Die Bulls is egter ook nie meer die sukkelspan van die eerste deel van vanjaar se SupeRugby-reeks nie. Na al die probleme wat die span moes oorkom, speel hulle tans puik rugby en as hulle kan voortbou op Vrydagaand se vertoning teen die Brumbies, kan hulle selfs nog ’n aanslag op die titel maak.

Vrydagaand se eerste helfte was ’n kliniese vertoning waarin die Bulls een van die top spanne in die reeks en verlede jaar se finalis tot oorgawe gedwing het. Die Brumbies is een van die min spanne wat die Sharks vanjaar kon klop, terwyl hulle ook al met die Waratahs (tans tweede op die puntelys) en verlede jaar se kampioene, die Chiefs, afgereken het.

Die Bulls se skrumwerk is tans puik, hul lynstaanwerk tel onder die beste in die toernooi en die algehele kohesie in die span is besig om aan hulle broodnodige momentum te gee.

As beserings aan sleutelspelers wegbly, is daar geen rede waarom die Bulls nie oor die naweek van 19 Julie deel kan wees van die kwarteindrondte van 2014 se SupeRugby-toernooi nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button