Bulls se SupeRugby drome word op Ellispark verydel
Hierdie een het min mense sien kom, maar die Bulls het toe Saterdagaand op Ellispark finaal vir hul ondersteuners gewys dat hulle nóg nie die kampioenspan is wat hulle besis kan wees nie. Die Leeus se oorwinning van 32-21 was ook ’n duur les vir die Bulls se bestuur, wat regdeur die seisoen hardkoppig ontkennend …
Hierdie een het min mense sien kom, maar die Bulls het toe Saterdagaand op Ellispark finaal vir hul ondersteuners gewys dat hulle nóg nie die kampioenspan is wat hulle besis kan wees nie.
Die Leeus se oorwinning van 32-21 was ook ’n duur les vir die Bulls se bestuur, wat regdeur die seisoen hardkoppig ontkennend gebly het oor die span se tekortkominge by die afbreekpunte, terwyl elke tweede ondersteuner op straat dit wel kon insien. Die Bulls bestuur se versuim om ’n geloofwaardige adjudant vir Deon Stegmann as baljagter flank te kry, het Saterdagaand finaal in hul gesigte onplof, met verrykende gevolge.
Saterdagaand se wedstryd was vir elke ondersteuner byna soos ‘n ironiese tragedie so reg uit die pen van ’n skrywer uit ’n vergane eeu. Sedert Vrydagoggend het alles reg verloop vir die Bulls. Spanne soos die Highlanders, Western Force, Hurricanes én Chiefs, wat almal bo hulle op die puntelys is, het deur die bank hul wedstryde van die naweek verloor. Al wat die Bulls dus moes doen om hulself knus tussen die top ses spanne in die kompetisie tuis te maak, was om die Lions te klop. ’n Bonuspunt oorwinning, waarin die Bulls vier drieë sou druk, het ook na verlede week se goeie vertoning teen die Brumbies nie onmoontlik gelyk nie. So ’n oorwinning sou die Bulls se posisie net nog meer versterk het.
Die Lions het egter ander planne gemaak. Uiteindelik was dit ook nie regtig so moeilik vir Johan Ackerman en sy bestuur om die Bulls se ondergang te beplan nie. Al wat hulle moes doen is om te konsentreer op die Bulls se swakplek en op dié manier sou hulle die manne in blou se besit-kraantjie toedraai, waarsonder hulle eenvoudig nie punte kon aanteken nie. Dít het hulle gedoen deur met spesialiste by die afbreekpunte te speel, terwyl die Bulls se gebrek aan losvoorspelers wat ná die bal toe speel, dramaties ontbloot is.
Nog ’n ou kwaal van die Bulls – hul slordige spel by die afskoppe – het Saterdagaand ook direk tot sewe maklike punte vir die Lions gelei toe Grant Hattingh nie die bal kon beheer nie en dit in die hande van Alwyn Hollenbach beland het wat kon deurdraf vir sy drie.
Die Lions se durf op die verdediging en hulle bittereinder-mentaliteit regdeur die wedstryd het die Bulls ook ten minste twee drieë gekos in die eerste helfte. Eers was hul desperate verdediging verantwoordelik vir die feit dat Jurgen Visser ’n bal in die doelgebied aangeslaan het, terwyl Bjorn Basson ook op die hoekvlag uitgeduik is.
Vir die Bulls is dit nou terug na die tekenbord. Hoewel hulle teoreties nog ’n kans het om die uitspeelrondtes van vanjaar se SupeRugby toernooi te haal, is dit hoogs onwaarskynlik dat hulle dit wel sal regkry. Daar kan egter hoop op Loftus Versfeld wees as daar op die lesse uit vanjaar se toernooi en die foute van die afgelope drie seisoene – op die veld en ook in die raadsale – ag geslaan word. Sodoende kan die Bulls binnekort weer ’n gevreeste krag in die suidelike halfrond wees.
