Sport

Top vier in Carltonbeker eers oor twee weke bepaal

Die Carltonbeker toernooi stuur af op 'n spannende twee weke en die Blou Bulle se verteenwoordiger in volgende jaar se Gemeenskapsbekerreeks sal eers teen die einde van Juniemaand bepaal word.

Met Polisie se sestigtal teen Harlequins het Nico Luus en sy manne die afgelope naweek hul voorsprong op die Carltonbekerpuntelys vergroot, terwyl ’n senutergende stryd tussen Centurion en TUT in die volgende twee weke gaan heers om ’n plek tussen die sogenaamde ‘top vier’.

– Polisie het tien drieë ingeryg om hul nuwe bure, Harlequins, met 62-0 te klop. Laasgenoemde het goed begin en aanvanklik het die Blokkiestruie se groot sterk agttal Polisie goed in toom gehou. Mettertyd het die Bobbies se goed geoliede masjien egter warm geword en op al sy silinders begin vuur.

Teen rustyd het Polisie reeds hul bonuspunt in die sak gehad toe linkervleuel Ivan Venter ver genael het vir sy span se vierde drie.

In die tweede helfte het die damwal gebreek en die Bobbies se groter fiksheid en ervaring het hulle gehelp om Harlequins aan flarde te speel. Polisie het in dié helfte alle aspekte van die spel oorheers en nog ses drieë gedruk, terwyl Harlequins nooit die doellyn kon haal nie.

Harlequins is egter ’n beter span as wat die telling aandui. Hulle het ’n paar baie goeie spelers in hul geledere en veral hul buitesenter, Hannes Herbst, het die oog gevang met sy sterk lopies wat die Bobbies se verdedigers besig gehou het.

Daar was blykbaar onlangs veranderinge onder die span se afrigters en ’n mens kan net hoop dat dit positief sal wees vir die klub se toekoms. As Harlequins se manne topfiks kan word en as hul stewige pak voorspelers tot ’n goedgebreide eenheid saamgevoeg word, behoort dié span baie beter te doen in die Carltonliga.

– Hoewel Tukkies redelik maklik 39-17 met TUT afgereken het en in die proses vyf drieë gedruk het, het die studente van Pretoria-Wes weer gewys dat hulle stadig maar seker besig is om weer ’n krag te word in die liga.

TUT het self twee drieë gedruk en met tye baie goeie rugby gespeel. Hul verdediging was ook vurig en Tuks kon baie verder gewen het as dit nie was vir die Vikings se vurige verdediging nie.

TUT is ook in ’n goeie posisie op die puntelys, met net ’n wedstryd teen Harlequins wat eerskomende naweek vir hulle voorlê. Met ’n goeie vertoning in dié wedstryd kan hulle baie druk op Centurion sit, wat tans dieselfde aantal punte as hulle op die puntelys het.

– Die manne uit die suide het wel die afgelope naweek volpunte verdien teen die Naka Bulle, toe hulle op laasgenoemde se tuisveld met 27-0 gewen het. Die twee spanne het mekaar aanvanklik goed opgedreun, maar Centurion se meer beweeglike pak, asook hul spoed agterlangs was een te veel vir die manne van die Moot.

Centurion sukkel vanjaar baie weens beserings aan sleutelspelers, maar hulle behoort tog daarin te slaag om as een van die ‘top vier’ deur te dring na die volgende rondte. Hul kanse om weer te kwalifiseer as die Bulle se verteenwoordiger in die Gemeenskapsbekerreeks is egter daarmee heen.

Hoewel Centurion eerskomende naweek ’n moeilike wedstryd teen Tukkies het, benodig hulle waarskynlik net een punt in dié wedstryd om deur te dring.

– In hierdie stadium stuur die wedstryd tussen Oostelikes en Polisie op 21 Junie egter af op ’n soort eindstryd om die Blou Bulle se verteenwoordiger in volgende jaar se Gemeenskapsbeker te bepaal. Oostelikes speel eerskomende naweek teen die Naka Bulle op laasgenoemde se tuisveld, terwyl TUT na Groenkloof reis om teen Harlequins te speel. Die groot stryd van die naweek is die wedstryd tussen Tuks en Centurion in die Tuks-stadion. Polisie het ’n loslootjie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button