Sport

Steroïde bewerings kan Chiliboy Ralepelle se rugbyloopbaan knou

Chiliboy Ralepelle, se rugbyloopbaan is waarskynlik in gevaar nadat dit bekend geword het dat hy glo positief getoets is vir die gebruik van ’n anaboliese steroïde.

Die gewese Bloubul- en Springbokhaker, Chiliboy Ralepelle, se rugbyloopbaan is waarskynlik in gevaar nadat dit bekend geword het dat hy glo in Frankryk positief getoets is vir die gebruik van ’n anaboliese steroïde.

Ralepelle speel sedert verlede jaar vir die Franse Top 1- klub, Toulouse. Hy het egter in Maart vanjaar ’n ernstige kniebesering opgedoen en hy was sedertdien besig met rehabilitasie. Die toets is in Frankryk uitgevoer en daar is in die Franse media berig dat spore van die steroïde, drostanolone, in Ralepelle se toetsmonster gevind is.

’n Woordvoerder van sy Franse klub het blykbaar reeds laat weet dat hulle Ralepelle se onskuld sal verdedig totdat die volledige ondersoek na die geval afgehandel is. Daar word glo beweer dat hy die middel moontlik kon inkry as deel van die medikasie wat hy moes neem na die operasie wat hy gehad het om ’n geskeurde knieligament te herstel.

Indien Ralepelle uiteindelik skuldig bevind word aan die gebruik van ’n verbode steroïde kan hy vir twee jaar uit rugby.geskors word. Só ’n verwikkeling kan sy loopbaan ernstig knou. Hy word oor drie maande in September vanjaar 28 en dit sal vir hom moeilik wees om as 30-jarige terug te keer na top rugby as hy twee jaar moet uitsit.

Hy sal waarskynlik ook sy kontrak by Toulouse verloor, wat volgens berigte etlike miljoene rand werd is.

In 2010 was Ralepelle ook in die nuus toe hy en ’n mede-Springbok, Bjorn Basson, huistoe gestuur is van die Springbokke se jaareinde-toer in Europa toe hulle positief getoets is vir die gebruik van opkikkers. Hulle het uiteindelik skotvry afgekom op ’n tegniese punt, nadat bewyse gelewer is dat die verbode middel wat in hul toetse opgespoor is, ’n bestanddeel was in amptelike produkte wat deur een van die Springbokke se borge verskaf is.

Dié voorval is destyds beskou as ’n glips wat deur die nalatigheid van die vervaardiger van die produkte veroorsaak is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button