Groot prys op die spel vir Oostelikes en Polisie in mini-eindstryd
Die Blou Bulle se gesogte Carltonbekerliga se eerste rondte stuur af op 'n spannende einde met twee uiters belangrike wedstryde wat eerskomende naweek gespeel gaan word.
Die uitslae in die afgelope naweek se Carltonbekerrugbywedstryde het die tafel gedek vir ’n naelbyteinde van die eerste rondte van vanjaar se reeks wat eerskomende naweek plaasvind.
Daar was geen verrassings nie en al die uitslae het volgens verwagting verloop. Tukkies het Centurion met 47-10 geklop, Oostelikes was met 69-22 baas teen die Naka Bulle en TUT het Harlequins maklik met 50-22 gewen.
Met Polisie wat die afgelope naweek ’n loslootjie gehad het, kon Oostelikes daarin slaag om, danksy hul oorwinning oor die Naka Bulle, hulself in ’n posisie te speel waar hul lot ten opsigte van die 2015 Gemeenskapsbekerreeks nou in hul laaste wedstryd teen Polisie bepaal gaan word.
Vanjaar se Carltonbekerreeks word anders gestruktureer as in die verlede. Volgens die bepalings speel al die die spanne in ’n eerste rondte teen mekaar. Na die eerste rondte word die top vier spanne van die res geskei. Die oopklub wat na die eerste rondte die hoogte plek op die puntelys beklee, is ook die span wat die Blou Bulle volgende jaar by die Gemeenskapsbekertoernooi sal verteenwoordig.
Verder sal die vier top spanne vanaf 19 Julie teen mekaar uitspeel om die top twee te bepaal wat op 9 Augustus in die finaal om die Carltonbeker sal speel.
Twee van die wedstryde in eerskomende naweek se afsluiting van die eerste rondte gaan dus deurslaggewend wees.
Eerstens sal die wedstryd tussen Oostelikes en Polisie soos ’n mini-eindstryd wees om die Bulle se volgende verteenwoordiger in die Gemeenskapsbekertoernooi te bepaal. Polisie is tans op 21 ligapunte die voorloper op die puntelys wat beteken dat hulle nie net vir die Gemeenskapsbekerprys speel nie, maar ook om die eerste rondte as die nommer een span af te sluit.
As Oostelikes die Gemeenskapsbekerkandidaat wil wees, sal hulle Polisie Saterdag moet klop en boonop moet sorg dat die Bobbies geen bonuspunte verdien nie. Indien Oostelikes, wat tans 18 ligapunte het, die Bobbies kan klop én vier drieë in die proses druk, sal hulle weer moet verhoed dat Polisie meer as een bonuspunt verdien.
Polisie se taak is egter bietjie makliker. ’n Gelykop uitslag of ’n nederlaag met minder as sewe punte (indien nie een van die spanne vier drieë druk nie) sal hulle laat deurdring aangesien hulle punteverskil tans 13 punte beter is as dié van Oostelikes.
Die ander wedstryd wat deurslaggewend gaan wees in die laaste naweek van die eerste rondte is Centurion se tweestryd met Harlequins. Centurion sal hierdie wedstryd met volpunte móét wen as hulle onder die top vier spanne wil eindig. As hulle dit nie regkry nie, sal TUT in die vierde plek eindig.
Centurion (10) is tans vyf punte agter TUT (15) op die puntelys, maar hul punteverskil lyk heelwat beter. As Centurion dus vir Harlequins kan klop en vier drieë in die proses kan druk, sal die twee spanne gelykop op die puntelys eindig en behoort Centurion bo TUT geplaas te word. TUT kan ongelukkig niks meer aan hul eie lot doen nie aangesien hulle reeds ses wedstryd gespeel het en eerskomende naweek ’n loslootjie het.
Tukkies het tans 20 ligapunte en hulle behoort eerskomende naweek met die Naka Bulle af te reken. Hulle sal dus voordeel trek as Oostelikes vir Polisie kan klop, want dit sal beteken die studente eindig bo aan die punteleer indien hulle die manne van die Moot wel verslaan.
