Grant Khomo toernooi in Pretoria
Pretorianers kan uitsien na puik skolerugby wanneer die nasionale Grant Khomoweek vir o.16 spanne volgende week op die velde van die Tshwane Universiteit van Tegnologie aangebied word.
Hoewel die Cravenweek vir o.18 -rugbyspelers nog altyd beskou is as die belangrikste toernooi waar jong talentvolle rugbyspelers vir die eerste keer deur talentjagters raakgesien is, het hierdie tendens beslis oor die afgelope paar jaar verander.
Deesdae is die Grant Khomoweek vir o.16-spelers, een van SARU se amptelike skole-toernooie tydens die Julie-skoolvakansie, die plek waar die supersterre van die toekoms reeds deur provinsiale talentjagters nadergehark word.
Dit is byvoorbeeld bekend dat die talentjagters van die Blou Bulle van die land se beste jong spelers soos Jan Serfontein en Handré Pollard reeds by hierdie toernooi raakgesien en gekontrakteer het.
Die goeie nuus vir liefhebbers van skolerugby in Pretoria is dat hulle vanjaar die geleentheid gaan kry om die land se beste o.16-rugbyspelers self in aksie te sien, aangesien die Grant Khomoweek vanjaar op die sportkampus van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in Staatsartillerieweg, Pretoria-Wes, aangebied word.
Twintig provinsiale o.16-spanne sal eerskomende naweek in Pretoria saamtrek vir dié toernooi, wat op Maandag 7 Julie amptelik begin. Hierdie twintig spanne sal bestaan uit die amptelike o.16-spanne van die veertien provinsiale unies, asook spanne van Namibië, Zimbabwe, die Limpopo Blou Bulle, Griekwas Platteland, Grens Platteland en ’n ekstra vyftiental van die Blou Bulle wat op spesiale uitnodiging sal speel.
Op die eerste dag sal die Blou Bulle se span teen hul eweknieë van SWD te staan kom. Wedstryde sal op Maandag 7 Julie, Dinsdag 8 Julie en Donderdag 10 Julie gespeel word en die program sal daagliks om 09:00 begin. Toegang is gratis en ruim parkeerplek is beskikbaar.
Lees ook:
Naka Bulle skok Polisie in Carltonbeker
Centurion word tweede Enristabeker kampioene
Nollis Marais betrek Gary Botha by Blou Bulle
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
