Pretorianer slaan gholfbal die verste
Dis nie elke dag dat 'n amateurgholfspeler wat kan spog dat min professionele spelers ’n gholfbal verder as hy kan slaan nie. Erik van der Walt kan dit wel doen en hy het die trofee om dit te bewys.

Staan opsy John Daly en Ernie Els, want julle sal moet uithaal en wys om ’n gholfbal so ver soos Pretoria se Erik van der Walt te kan slaan.
Daly en Els is top professionele gholfspelers wat albei bekend is dat hulle die bal besonder ver van die bof af kan moker, maar hulle sal waarskynlik albei sukkel om Erik van der Walt se wenafstand by die onlangse Suid-Afrikaanse ‘Long Drive’-kampioenskappe te oortref.
Van der Walt se wenafstand was ’n verstommende 379,7m. Daarmee het hy nie net die Suid-Afrikaanse kampioen op die Huddle Park-gholfbaan in Johannesburg geword nie, maar ook sy plek by die wêreldkampioenskappe in September in Amerika bespreek.
Dit was beslis geen vloekskoot vir dié gewese rugbyspeler wat op sy dag vir Tukkies op haker uitgedraf het nie. Dit is die derde keer sedert 2010 dat hy dié kampioenskappe wen.
Die 32-jarige Van der Walt is ’n sakeman van Garsfontein in Pretoria en is verbonde aan die Zwartkop-gholfklub in Centurion. Hy vertel dat ‘Long Drive’ inderdaad ’n afsonderlike sport is. Volgens Van der Walt is ‘Long Drive’ hier in Suid-Afrika nog ’n relatief onbekende sport, maar in Amerika word dit deur duisende beoefen en kry dit groot aftrek by toeskouers. Hyself speel ook gholf en spog met ’n voorgee van 2.
Sommige mense sal dalk dink ’n man moet ’n paar voorarms soos Popeye of skouers soos Hercules hê om ’n gholfbal so ver te dryf, maar volgens Van der Walt lê die geheim eerder in die gholfswaai en hoe dit in die heupe, maagspiere en laer rug beheer word. “Sterk maagspiere en soepel heupe is beslis ’n vereiste,” het hy aan Rekord gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
