Sport

Opwindende rugby verwag by Enrista Cup toernooi

Die langverwagte Enrista Cup-rugbytoernooi vir o.19-rugbyspelers vind hierdie week op Loftus Versfeld se B- en C-velde plaas. Die toernooi bestaan uit agt o.19-rugbyspanne wat in die kleure van die agt Carltonbekerklubs teen mekaar sal speel vir die Enrista trofee. Dié spanne is saamgestel in samewerking met die klubs en die amptelike provinsiale skolekeurders van die …

Die langverwagte Enrista Cup-rugbytoernooi vir o.19-rugbyspelers vind hierdie week op Loftus Versfeld se B- en C-velde plaas. Die toernooi bestaan uit agt o.19-rugbyspanne wat in die kleure van die agt Carltonbekerklubs teen mekaar sal speel vir die Enrista trofee. Dié spanne is saamgestel in samewerking met die klubs en die amptelike provinsiale skolekeurders van die Blou Bulle. Die spelers is almal seuns wat vanjaar in matriek is. Skole in Pretoria is volgens streke opgedeel en dan weer by die verskillende klubs ingedeel. Die spanne bestaan uit spelers van hoë rugbystandaard wat net nie daarin kon slaag om een van die Blou Bulle se drie amptelike verteenwoordigende spanne te haal nie. Hierdie toernooi het ontstaan weens twee hooffaktore. Eerstens is daar ’n ernstige behoefte by klubs om ’n metode te vind om skoolseuns wat nie in die professionele strukture van rugby opgeneem word nie, steeds by die spel betrokke te hou. Volgens die bekende rugbypromotor, Willem Strauss, wat inderdaad as die vader van hierdie toernooi beskou kan word, het navorsing getoon dat meer as 80% van alle matriekseuns wat vir hul skool se eerstespan rugby speel, direk na skool verlore raak vir die spel. Die toernooi skep dus die geleentheid vir skoolseuns om aan die kultuur van klubrugby blootgestel te word, terwyl klubs weer die geleentheid kry om spelers te werf vir hul junior spanne wat deel is van die Blou Bulle se klubligas. Daar word gehoop dat klubs hierdeur jaarliks sterk o.19-spanne vir hul volgende seisoen sal kan werf. Dit sal dus ook die Blou Bulle se junior klubligas versterk en outomaties op die langer duur ook klubrugby in die algemeen versterk. Die tweede faktor wat tot hierdie toernooi aanleiding gegee het hou verband met die eerste. Die persepsie bestaan by skoolseuns dat hulle geen kans het om toegang tot die professionele ligas te kry as hulle nie deel was van die amptelike verteenwoordigende spanne soos die Blou Bulle se Cravenweek- Akademieweek- en Noordvaalweek-spanne nie. Dit is ook een van die hoofredes waarom so baie spelers die spel ná skool laat vaar. Hierdie toernooi sal hopelik nog ’n platvorm skep waar talent raakgesien kan word. As die toernooi boonop die standaard van die Blou Bulle se junior klubligas suksesvol versterk soos gehoop word, sal dié ligas in die toekoms kan dien as ekstra voedingsbron van die professionele ligas. Op dié manier as sogenaamde ‘laat ontwikkelaars’ raakgesien word en ’n kans kry om ’n suksesvolle loopbaan as professionele speler te bou. Al die wedstryde van die toernooi sal op Loftus Versfeld se B- en C-velde gespeel word en die eerste wedstryde skop Dinsdag 1 Julie om 18:00 af. Om 19:15 sal daar ’n amptelike opening wees, terwyl die tweede wedstryde om 19:30 sal afskop. Volgens die amptelike trekking, wat onlangs by Loftus Versfeld plaasgevind het, sal die klubs soos volg teen mekaar speel op die eerste dag: Centurion vs Polisie; Oostelikes vs Tukkies; Naka Bulle vs TUT en Silver Valke vs Harlequins. Donderdag sal die halfeindrondtes van die toernooi gespeel word waar die wenners van Dinsdag se wedstryde vir die bekerafdeling sal uitspeel, terwyl die verloorders van dag een in die plaatkompetisie se halfeindrondtes betrokke sal wees. Dié wedstryde sal weer om 18:00 begin. Saterdag begin die aksie om 09:00 die oggend op die C-veld met die uitspeelwedstryde vir die derde en vierde plekke in die twee afdelings, terwyl die eindstryd van die plaatafdeling om 10:30 op die B-veld sal begin. Die groot eindstryd vir die Enrista Cup sal dan om 12:00 op die B-veld volg. Na afloop van die toernooi sal ’n verteenwoordigende span gekies word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Check Also
Close
Back to top button