Sport

Sporthoogtepunte vir 5-6 Julie 2014

Die sporthoogtepunte vir die naweek.

Fifa se wêreldbekertoernooi het reeds die kwarteindrondte-fase bereik en hierdie naweek kom twee besonder interessante wedstryde aan die beurt.

Die gelukkige agt spanne wat deurgedring het na hierdie fase is Frankryk, Duitsland, Brazilië, Colombia, Argentinië, België, Nederland en Costa Rica. Vrydagaand het die eersgenoemde vier reeds in die eerste twee kwarteindrondte wedstryde gespeel, terwyl die laaste vier op Saterdag 5 Julie sake gaan uitspook om ’n plek in die halfeindrondte.

Dit is ook interessant dat ’n groot hoeveelheid spanne uit Sentraal- en Suid-Amerika na hierdie fase deurgedring het. Daar is waarskynlik twee groot redes hiervoor. Eerstens het die warm, bedompige weersomstandighede die spanne uit die noordelike halfrond gepla. Dan het die spanne uit Sentraal- en Suid-Amerika natuurlik ook die voordeel gehad om baie van hul landsgenote in die stadion te hê, aangesien die toernooi op hul agterstoep plaasvind.

Rugby

Met die Cravenweek vir Laerskole wat hierdie week plaasgevind het, het die fokus in skolerugby geskuif van individuele skole na verteenwoordigende skolerugby.

Hierdie naweek breek die Grant Khomoweek en die o.18 Akademieweek ook aan. Die Grant Khomoweek is SARU se nasionale week vir o.16 spanne en dié prestige-ryke week word vanjaar in Pretoria afgehandel. Hoewel die spanne reeds oor die naweek op die TUT sportkampus bymekaarkom, sal die eerste wedstryde eers op Maandag 7 Julie gespeel word.

Die o.18 Akademieweek begin ook amptelik Maadagoggend en dié toernooi sal vanjaar deur die Boland in Wellington aangebied word.

Intussen was die eerste twee rondtes van die Enrista-trofee toernooi vir o.19 spelers ’n reuse sukses. Die finale van hierdie toernooi word op Saterdag 5 Julie beslis. Die eerste wedstryde begin reeds om 09:00 en die finaal vir die Enrista trofee skop om 12:00 op Loftus Versfeld se B-veld af.

Hierdie is ’n nuwe toernooi vir skoolseuns wat in samewerking met die Blou Bulle se klubs aangebied word. Die doel van hierdie toernooi is eerstens om aan seuns wat ongelukkig was om nie een van die provinsiale spanne na die nasionale weke (Cravenweek, Akademieweek of Noordvaal week) te haal nie, wel ’n kans te gee om hul staal te wys in ’n verteenwoordigende span.

Tweedens is die doel van die toernooi om ’n voedingsbron vir klubs te skep, aangesien rugby op dié vlak tans sukkel om jong spelers te trek.

Die Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria is steeds in reses en sal weer op 19 Julie voortgesit word as die tweede rondte begin.

Die SuperRugby toernooi word natuurlik ook hierdie naweek voortgesit en terwyl die Lions reeds Vrydagaand teen die Rebels op Ellispark gespeel het, sal twee ander wedstryde op Saterdag 5 Julie in Suid-Afrika gespeel word. Om 17:00 speel die Stormers teen die Bulls in Kaapstad en om 19:10 is dit die Cheetahs teen die Sharks in Bloemfontein.

Padwedloop

Run and Walk For Life en Hospice bied Saterdagoggend 5 Julie die “Race 4 Faith” wedloop by die Silver Oaks Crossing aan. Die top wedloop sal oor 15km beslis word, terwyl daar ook 9km- en 6km- wedlope sal wees vir atlete wat korter afstande verkies.

Tennis

So tussen die sokker deur het die Wimbledon tennistoernooi hierdie week ook gevorder tot by die klimaks, wat eerskomende naweek sal plaasvind. Op Saterdag 5 Julie speel die 13de gekeurde Eugenie Bouchard van Kanada teen die sesde gekeurde Czech, Petra Kvitova.

Die kandidate vir die mansfinaal wat op Sondag 6 Julie moet plaasvind sal nog bepaal word, aangesien die eerstegekeurde Novak Djokovic van Servië nog teen die elfde gekeurde Grigor Dimitrov van Bulgarye moet uitspeel in die een halfeindstryd, terwyl die vierde gekeurde Sweed, Rodger Federer teen die agtste gekeurde Kanadees, Milos Raonic moes speel in die ander halfeindrondte.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button