Enristabeker toernooi ’n reuse sukses
Die Enristabekertoernooi vir onder 19-rugbyspelers van Pretoria wat verlede week op Loftus Versfeld se B- en C-veld afgehandel is, was ’n sukses en groot opgewondenheid heers, veral by die betrokke klubs, oor die deure wat hierdie toernooi vir hulle kan oopmaak. As die klubs se opvolgwerk suksesvol is, kan klubrugby op junior vlak (o.19 en …
Die Enristabekertoernooi vir onder 19-rugbyspelers van Pretoria wat verlede week op Loftus Versfeld se B- en C-veld afgehandel is, was ’n sukses en groot opgewondenheid heers, veral by die betrokke klubs, oor die deure wat hierdie toernooi vir hulle kan oopmaak. As die klubs se opvolgwerk suksesvol is, kan klubrugby op junior vlak (o.19 en o.21) in die volgende aantal jaar, asook klubrugby in die algemeen, op die langer termyn ’n inspuiting kry wat getalle en standaard betref. Volgens die toernooikonsep, wat deur die bekende sportpromotor, Willem Strauss van Bizsport, ontwikkel is, het 176 matriekseuns van skole regoor Pretoria die geleentheid gekry om hulself op ’n hoër vlak as hul skool se eerstespan te toets en daardeur op verteenwoordigende vlak in die kleure van die agt Carltonbekerklubs te speel. Strauss was Saterdag ná die finaal tussen die span in Tukkies se kleure en dié in Harlequins se kleure, wat ná ’n taai stryd deur Tukkies met 19-10 gewen is, besonder opgewonde oor die sukses en toekoms van die toernooi. “Op Engels is daar ’n gesegde wat sê ‘If you can’t measure it, you can’t manage it’ en ons het met hierdie toernooi die perfekte maatstaf gekry om te besef hoeveel talent daar werklik deur die sif geval het nadat al die Blou Bulle se verteenwoordigende spanne gekies is. Nou kan ons volgende jaar die sukses daarvan meet deur te bepaal hoeveel van hierdie seuns permanent by klubrugby betrokke raak”, het Strauss aan Rekord gesê. “Wat my opgewonde maak is dat seuns van sowat 30 skole betrokke was en almal die geleentheid gehad het om verteenwoordigende rugby te speel en aan die klubrugbykultuur blootgestel te word. In die wenspan van Tukkies was daar byvoorbeeld seuns van Waterkloof, Tuine, HTS Tuine, Hercules en Pretoria Technical High School wat saam in een span gespeel het. En daar wen hulle die toernooi met puik rugby. As dit nie vir ons iets leer oor die ware krag van skolerugby nie, dan wil ons nie werklik leer nie,” was Strauss se opsomming. Die wenspan se afrigtingspan was boonop ook ’n unieke kombinasie met Jaco van Zyl van Waterkloof as hoofafrigter terwyl hy bygestaan is deur Ian Jacobs van Tuine en Wimpie Strydom van HTS Tuine. Strauss het ook gesê hy glo die toernooi het gekom om te bly en hulle is baie opgewonde oor die ondersteuning wat hulle van die borge en van honderde toeskouers deur die week ontvang het. Volgens Strauss is hul konsep reeds as suksesvol bewys deur die feit dat twee seuns tydens die toernooi studiebeuse en moontlike professionele kontrakte aangebied is. Ook André van der Westhuizen, hoof- uitvoerende beampte van Enrista, was baie tevrede met die sukses van die toernooi. Hy het die versekering gegee dat Enrista beslis in die toekoms by die toernooi betrokke sal bly. Die toernooi is aangebied met die samewerking van die Blou Bulle se hoërskolerugbyvereniging wat by die kies van die spanne betrokke was en ook in sommige gevalle afrigters verskaf het. Een van die kenmerke van die toernooi was juis die goeie balans wat dié keurders kon handhaaf want uit die 12 wedstryde wat gespeel is, was daar net twee waarin die wenspan hul teenstanders kon oorheers. Dit was toe Oostelikes meer as 50 punte op dag twee teen die Silver Valke kon aanteken, terwyl dieselfde span in die finaal van die plaatkompetisie met 34-12 teen Centurion gewen het. In byna al die ander wedstryde was die uitslag tot aan die einde in die weegskaal, wat daarop dui dat die spanne besonder goed gebalanseerd was.
