Bulls sluit SupeRugby seisoen op hoogtepunt af
Daar is goeie nuus en slegte nuus vir die Bulls ondersteuners ná dié span se oorwinning van 40-7 oor die Rebels Vrydagaand op Loftus Versfeld. Die goeie nuus is dat die Stormers na dese nie meer die Bulls kan inhaal nie en dat die manne in Blou se ondersteuners ten minste dié vernedering gespaar word …
Daar is goeie nuus en slegte nuus vir die Bulls ondersteuners ná dié span se oorwinning van 40-7 oor die Rebels Vrydagaand op Loftus Versfeld.
Die goeie nuus is dat die Stormers na dese nie meer die Bulls kan inhaal nie en dat die manne in Blou se ondersteuners ten minste dié vernedering gespaar word om laer as hul aartsvyand uit die suide op die puntelys van vanjaar se reeks te eindig.
Die slegte nuus is dat die Bulls se negende plek in vanjaar se reeks hul swakste vertoning is sedert die rampspoedige seisoen van 2008, toe Frans Ludeke destyds die leisels oorgeneem het.
Die wedstryd self teen die Rebels was ’n verhaal van twee uiteenlopende helftes. Teen rustyd het die 9500 toeskouers en getroue Bulls ondersteuners wat besluit het om een van die koudste aande tot dusver vanjaar in Pretoria te trotseer ter wille van hul span, sekerlik begin wonder waarom hulle dit aan hulself gedoen het. Die rugby tot op daardie stadium was ’n vervelige geskarrel deurspek van slordige spel en tot op daardie stadium was daar nie veel te sien van die verwagte skouspel weens die feit dat nie een van die twee spanne iets gehad het om te verloor nie.
Watter doepa die Bulls ookal ingekry het teen rustyd het beslis vir hulle gewerk, want die laaste 40 minute was daar skielik vuur en doelgerigtheid in hul spel. Vier puik drieë later kon die Bulls tevrede van die veld afstap met die wete dat hulle ten minste op Loftus Versfeld vanjaar onoorwonne was.
Jong spelers soos Roelof Smit, Nicolaas Janse van Rensburg en Jesse Kriel het ook puik ingeskakel by die meer ervare manne en ’n mens het weer besef hoe jonk en onervare hierdie span inderdaad is toe hierdie manne saam met Handré Pollard, Jan Serfontein, Morné Mellet en Paul Willemse deur die tonnel stap na afloop van die wedstryd.
Frans Ludeke was na die wedstryd vol moed oor die toekoms en hy het openlik gesê dat hy uitsien om met al hierdie jong manne te werk tydens vanjaar se Curriebekerreeks. Wie weet, dalk kan die nuwe geslag op Loftus Versfeld tog in vanjaar se Curriebekertoernooi gevestig word as ’n soliede eenheid en as beseerde sterre soos Flip van der Merwe. Pierre Spies, Arno Botha, Deon Stegmann en Frik Kirsten volgende jaar weer saamjag, sal die Bulls dalk weer hul plek onder die top spanne in die SupeRugby reeks kan inneem.
Puntemakers:
BULLS 40: Drieë: Paul Willemse (2), Francois Hougaard, Dean Greyling. Doelskoppe: Handré Pollard (3), Jacques-Louis Potgieter (1). Strafdoele: Handré Pollard (4).
REBELS 7: Drie: Jack Debreczeni. Doelskop: Jack Debreczeni (1).
Spanne:
Vodacom Bulls: Jurgen Visser, Bjorn Basson, JJ Engelbrecht, Jan Serfontein, Francois Hougaard, Handré Pollard, Piet van Zyl, Jacques Engelbrecht, Jono Ross, Roelof Smit, Victor Matfield (kaptein), Paul Willemse, Marcel van der Merwe, Bandise Maku, Morné Mellett. Plaasvervangers: Callie Visagie, Dean Greyling, Werner Kruger, Nicolaas Janse van Rensburg, Marvin Orie, Jesse Kriel, Jacques-Louis Potgieter, William Small-Smith.
Rebels: Telusa Veainu, Alex Rokobaro, Tamati Ellison, Mitch Inman, Tom English, Jack Debreczeni, Luke Burgess, Colby Fainga’a, Scott Fuglistaller (kaptein), Luke Jones, Cadeyrn Neville, Hugh Pyle, Laurie Weeks, Shota Horie, Toby Smith. Plaasvervangers: Pat Leafa, Cruze Ah-Nau, Paul Alo-Emile, Lopeti Timani, Jordy Reid, Nic Stirzaker, Sam Jeffries, Lalakai Foketi.
Skeidsregter: Rohan Hoffman (Australië)
Assistent skeidsregter: Stuart Berry, Sieg van Staden
Televisie skeidsregter: Johan Greeff
