Sport

Sporthoogtepunte vir 12-13 Julie 2014

Sport hoogtepunte vir die naweek vir al die sportliefhebbers. Lees verder vir al die besonderhede.

Die grootste sportmaand van die jaar, Fifa se wêreldbekertoernooi, loop hierdie naweek ten einde met die groot eindstryd tussen Duitsland en Argentinië wat Sondag die verbeelding van die hele wêreld sal aangryp.

Suid-Afrika ken darem nou al die afwagting, opwinding en harde werk wat met so ’n toernooi gepaardgaan en daarom sal Suid-Afrikaners die naweek se laaste aksie met waardering en goeie herinneringe kan dophou.

Saterdagaand sal Suid-Afrikaners wat gehoop het dat Brazilië of Nederland vanjaar se kampioen word darem na die troosprys kan kyk, wanneer dié twee spanne in die uitspeelwedstryd vir die derde en vierde plekke betrokke sal wees. Dis natuurlik dié een wedstryd waarvan geen speler ooit droom nie, maar ten minste is die brons medalje vir die wenners beter as om met leë hande huistoe te gaan.

Rugby

Die aksie in die nasionale skoleweke hou ook nog nie op nie. Die afgelope week kon Pretorianers self die aksie in die Grant Khomoweek vir o.16 spelers by TUT se velde dophou, terwyl die o.18 Akademieweek in die Boland afgehandel is. Die Enrista-trofee toernooi was ook suksesvol en die tradisionele Bokkieweek, die grootste van al die skole-toernooie, is ook in Naboomspruit afgehandel.

Hierdie naweek breek die grootste en enigste oorblywende skoleweek aan wanneer die deelnemers aan die Cravenweek vir Hoërskole (o.18) Sondag al in Middelburg (Mpumalanga) byeenkom vir dié prestigeryke toernooi, wat volgende week op die velde van die HTS Middelburg afgehandel sal word. Middelburg is skaars ’n uur se ry op die N4 vanaf Pretoria en liefhebbers van skolerugby kan maklik ’n dag-uitstappie daarheen maak om die room van die land se skoolseun-talent in aksie te sien. Wie weet, dalk kan jy oor ’n jaar of wat ook saamgesels as ’n nuwe ster op die horison verskyn, omdat jy hom reeds as skoolseun op die Cravenweek in aksie gesien het.

Die Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria is steeds in reses en sal weer op 19 Julie voortgesit word as die tweede rondte begin.

Die SupeRugby toernooi se laaste rondte ligawedstryde het reeds op Vrydag 11 Julie begin en teen 21:00 Saterdagaand sal die laaste eindfluitjie geblaas het voor die uitspeelrondtes begin. Die enigste Suid-Afrikaanse span wat verseker is van ’n plek in die uitspeelrondtes is die Sharks. Hulle het egter ’n moeilike neut om te kraak as hulle hul aanspraak wil behou op die tweede plek op die puntelys. Eers sal hulle moet hoop dat die Crusaders Saterdagoggend òf verloor teen die Highlanders òf dat hulle nie vier drieë druk vir ’n bonuspunt-oorwinning nie. Dan sal hulle Saterdagaand om 19:10 in hul wedstryd teen die Stormers in Kaapstad móét wen met volpunte op die punteleer.

Net voor die aksie in Kaapstad sal die fokus in Johannesburg wees, waar die twee kat-spanne, die Leeus en die Cheetahs, sake sal uitspook om te bepaal wie die Suid-Afrikaanse span gaan wees wat die laagste op die puntelys sal eindig. Dié aksie begin om 17:00.

Die Bulls se laaste SupeRugby aksie is natuurlik reeds Vrydagaand op Loftus Versfeld afgehandel, waar hulle teen die Rebels van Australië in aksie was.

Padwedlope

Afriforum se Springbok Vasbyt padwedloop vind op Saterdagoggend 12 Julie by die Voortrekkermonument in Pretoria plaas. Die wedloop sal om 07:30 begin en daar is drie opsies vir atlete. Eerstens sal die hardebaarde en ervare dames die 25km wedloop aanpak. Daar sal ook ’n 10km wedloop wees vir diegene wat nie so ver wil hardloop in die koue nie, terwyl die tradisionele 5km pretloop ook ’n opsie is vir die minder fikse deelnemers.

Gholf

Die roemrykste van alle gholftoernooie, die Britse Ope, begin volgende week op die Royal Liverpool baan. Twee voormalige Suid-Afrikaners, wat albei al die toernooi gewen het, Ernie Els (2002 en 2012) en Louis Oosthuizen (2010), sal albei weer vanjaar daar in aksie wees. Die Pretorianer en oud Affie, George Coetzee, het homself letterlik op die wêreldgholf-verhoog aangekondig toe hy in 2011 as 25-jarige nuweling 15de gekom het in dié toernooi. Hy sal weer een van die manne wees wat teen Donderdag afslaan met die hoop om ’n paar miljoen Pond ryker te word. Ander Suid-Afrikaners wat ook deelneem is Charl Schwartzel, Brandan Grace, Richard Sterne, Justin Walters en die gewese Tshwane Ope kampioen, Dawie van der Walt.

Krieket

Suid-Afrika toer tans in Sri Lanka en die derde en laaste eendagwedstryd in die huidige reeks tussen dié twee lande word op Saterdag 12 Julie in Hambantota gespeel. Sri Lanka het die eerste wedstryd gewen, terwyl die Proteas die bordjies in die tweede wedstryd verhang het. Saterdag se wedstryd sal dus die beslissende een wees om die wenner van die reeks te bepaal, waarna die toetsreeks volgende week begin. Die eerste toets word in Colombo gespeel en sal op Woensdag 16 Julie begin.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button