Daar is vasbyters en ystermanne… en dan is daar Conrad Watt
Dit word dalk nie altyd besef nie, maar ten opsigte van deelnemers is padwedlope loshande die grootste sport wat sosiaal én op georganiseerde wyse in Suid-Afrika beoefen word. Op enige gegewe Saterdagoggend van die jaar is daar iewers in Pretoria ‘n amptelike wedloop en aan sulke wedlope kan enigiets van ‘n paar honderd atlete tot …
Dit word dalk nie altyd besef nie, maar ten opsigte van deelnemers is padwedlope loshande die grootste sport wat sosiaal én op georganiseerde wyse in Suid-Afrika beoefen word. Op enige gegewe Saterdagoggend van die jaar is daar iewers in Pretoria ‘n amptelike wedloop en aan sulke wedlope kan enigiets van ‘n paar honderd atlete tot meer as tienduisend deelneem. Pad-atlete kan in verskillende kategorieë ingedeel word. Die meeste van hulle is eintlik maar net drawwers wat die langpad ‘n paar keer per week aandurf ter wille van gesondheid en fiksheid. Sommige begin hardloop om gewig af te skud en fiks te word. Dan byt die gogga en kort voor lank sluit hulle aan by ‘n klub en begin medaljes versamel. Die meeste drawwers hou gewoonlik by die 10km wedlope, terwyl hulle stelselmatig aanbeweeg na halfmarathons (21km) en later ook standaard marathons (42km). Dan is daar natuurlik daardie een doelwit wat die regtig gedetermineerde langasems begin teister – om ‘n medalje te kry vir een van die land se twee bekendste ultramarathons, die Twee Oseane in Kaapstad of die Comrades in Natal. Vir die meeste langasems is die suksesvolle voltooiing van een van hierdie twee ultra marathons die toppunt van sukses. Maar dan kry jy natuurlik atlete soos Conrad Watt van Centurion, vir wie die pyn en lyding van die Comrades se 89km of die Twee Oseane se 56km steeds nie genoeg is nie. Vir hulle is daar die Washie 100 myler. Die Washie is Suid-Afrika se bekendste 100myler (162km) wedloop en dit word jaarliks in Juliemaand gehardloop tussen Port Alfred en Oos-Londen. Die atlete spring gewoonlik om 17:00 in die middag in Port Alfred weg en kry dan 26 uur om dié 100 myl roete tot in Oos-Londen klaar te maak. Een van die moeilike fasette van die wedloop is dat die atlete deur die nag hardloop, wat nie net op hulle stremming plaas nie, maar ook op hul bystandspanne. Eet en drink is ook ‘n probleem en atlete moet baie goed beplan om nie te dehidreer nie. Die meeste atlete stop ten minste een keer langs die pad, gewoonlik teen dagbreek. Dan word ontbyt geëet en selfs skoon hardloopklere aangetrek. Bystand is ook belangrik, maar Watt was gelukkig om sy vriendin, Janeane Potgieter, wat self ‘n ervare marathon atleet is, saam met sy pa en ander vriende as deel van sy bystandspan te hê. Sy het nie alleen gehelp met bystand soos kos en vloeistowwe nie, maar sy het ook vir byna 40km van die pad saam met hom gehardloop. Watt het vanjaar in sy heel eerste poging die Washie in die 25ste plek klaargemaak in ‘n tyd van 22ure en 31minute. Net 62 dapper atlete het op 11 Julie weggespring en 47 van hulle het die wedloop uiteindelik suksesvol voltooi. Dié oud leerling van die Hoërskool Uitsig is lid van die Pierre van Ryneveld atletiekklub. As hy nie hardloop nie, werk hy (in die nag) as Radiograaf by die Unitas Hospitaal in Centurion. Om Watt se prestasie in perspektief te stel ,moet genoem word dat hy vanjaar al drie die moordendste ultra marathons in Suid-Afrika, die Twee Oseane, die Comrades en die Washie binne net drie maande voltooi het. In April het hy sy eerste Twee Oseane marathon voltooi, in Junie het hy sy vierde Comrades medalje verdien en bietjie meer as ‘n maand daarna het hy die eerste keer Washie aangepak. Dié Pretorianer tel inderdaad as ‘n Yster onder die ystermanne.
