Carltonbeker toernooi verloor stoom
Besluitnemers oor die wel en weë van Bloubul-klubrugby sal waarskynlik dringend aandag moet gee aan die struktuur van die Carltonbeker kompetisie omdat dié toernooi vanjaar in die aanloop na die finaal byna al sy fut verloor het. Die nuwe stelsel – waar die top vier spanne van die onderste drie geskei word en geen halfeindrondtes …
Besluitnemers oor die wel en weë van Bloubul-klubrugby sal waarskynlik dringend aandag moet gee aan die struktuur van die Carltonbeker kompetisie omdat dié toernooi vanjaar in die aanloop na die finaal byna al sy fut verloor het. Die nuwe stelsel – waar die top vier spanne van die onderste drie geskei word en geen halfeindrondtes gespeel word nie – is reeds ’n mislukking. Nadat Oostelikes verlede week teen Polisie verloor het, was die kandidate vir die eindstryd reeds bepaal en onmiddellik het byna almal, behalwe die twee spanne wat in dié finale wedstryd betrokke sal wees, reeds belangstelling verloor in die toernooi. Oostelikes het so ver gegaan om te onttrek aan hul wedstryd teen Tukkies wat die afgelope naweek gespeel moes word, aangesien hulle deur ’n reuse -antal beserings geteister word. Oostelikes was veral bekommerd omdat hulle met ’n voorry van tweede- en derdespanspelers sou moes opdraf weens beserings aan voorrymanne. Omdat daar niks vir hulle op die spel was nie, het hulle eenvoudig onttrek en die ligapunte aan Tukkies op ’n skinkbord gegee. Dit sou beslis nie gebeur het as daar ’n halfeindrondte-wedstryd op die spel was nie. Daar is ook nou sprake dat Tukkies en Polisie onderling ooreen gaan kom om ook hul laaste ligabepaling af te stel, aangesien hulle in elk geval ’n week later teen mekaar in die eindstryd te staan gaan kom. Die hele tweede fase van die toernooi het met hierdie ontwikkelings dus basies ingeplof en daar sal dringend aandag gegee moet word aan ’n verbeterde stelsel in die toekoms. Weens Oostelikes se onttrekking, het daar die afgelope Saterdag slegs twee wedstryde plaasgevind. In die boonste afdeling vir die Carltonbeker het Polisie vir TUT met 23-14 geklop, maar hierdie telling kan misleidend wees. Polisie was nie op volsterkte nie en daar was in elk geval niks vir hulle op die spel nie, net ’n ligabepaling om agter die rug te kry.
* In die ander wedstryd van die naweek het Centurion vir Naka Bulle maklik geklop om te verseker dat hulle in die eindstryd van die Carlton Skild afdeling sal speel. Die manne van die Moot sal sake met Harlequins moet uitspook om Centurion se prooi te wees in dié eindstryd.
