Sewe Bokke in Blou Bulle se span teen Leeus
Frans Ludeke, wat vanjaar weer die leisels oorneem as afrigter van die Blou Bulle in die Curriebekerreeks, het sewe Springbokke en ’n Sewesrugby Bok gekies in sy span wat Saterdag op Ellispark in die eerste wedstryd van dié toernooi teen die Leeus moet uitdraf. Oor die algemeen lyk dit na ’n span wat sy man …
Frans Ludeke, wat vanjaar weer die leisels oorneem as afrigter van die Blou Bulle in die Curriebekerreeks, het sewe Springbokke en ’n Sewesrugby Bok gekies in sy span wat Saterdag op Ellispark in die eerste wedstryd van dié toernooi teen die Leeus moet uitdraf.
Oor die algemeen lyk dit na ’n span wat sy man sal kan staan in die moordende Curriebekerreeks, waar daar nie afnaweke en ruskans is soos in die SupeRugby toernooi nie.
Dis twaalf strawwe weke se weeklikse rugby vir al die spanne, wat baie gaan vra van die spelers se fiksheid, toewyding en fokus.
Ludeke het een nuweling in sy beginspan ingesluit, terwyl daar ook op die bank twee groentjies sal wees.
Die nuweling in die beginspan is binnesenter, Burger Odendaal. Odendaal is ’n oud leerling van Monument Hoërskool aan die Wes-Rand wat sedert 2012 by die Blou Bulle betrokke is.
Hy is inderdaad vanjaar nog ’n o.21 speler, maar hy het ook al twee seisoene se Varsitybekerrugby in die trui van Tukkies agter die blad.
Odendaal is een van die vele puik jong senters wat tans by die Blou Bulle gekontrakteer is en hy het ook vanjaar reeds uitgeblink in die Ligbloues se Vodacombeker span.
Op die bank sal die ander twee nuwelinge, die slot en oud Affie, Nicolaas Janse van Rensburg, en die veelsydige agterspeler, Jesse Kriel, ook angstig wag vir hul kans om Curriebekerrugby te speel.
Janse van Rensburg lyk na ’n baie belowende jong speler en hy kan die Bulle se nuutste spogproduk uit hul beroemde slotfabriek word. Kriel is op sy beurt een van die opwindendste jong rugbyspelers in Suid-Afrika en daar word verwag dat hy vanjaar in die Curriebekerreeks sy stempel sal afdruk om homself as toekomstige superster te vestig.
Die een verrassing in Ludeke se spankeuse is egter die weglating van die hoogaangeskrewe senter, William Small-Smith, uit die twee-en-twintigtal. Small-Smith word beskou as een van die invloedrykste jong spelers in Suid-Afrika en daar is algemeen verwag dat hy in vanjaar se Curriebekerreeks sy kans sal kry om homself in die span te vestig.
Met die jong Roelof Smit, wat sy SupeRugby debuut in die Bulls se laaste wedstryd teen die Reds gemaak het, wat tans met ’n lastige besering sukkel, maak die hardwerkende gewese Junior Bokkie kaptein, Wiaan Liebenberg, ook ’n welkome terugkeer tot die senior span. Hy sal op die bank sit as enigste losvoorspeler reserwe.
Die span sal gelei word deur Deon Stegmann, die Bulle se top baljagter, wat vanjaar in die SupeRugby veldtog erg gemis is. Stegmann was die afgelope twee seisoene ongelukkig om deur kwaai beserings geteister te word, maar hy het by die bekendstelling van die span gesê hy is fiks, gesond en gereed vir die Curriebeker seisoen.
“Ek is fisies én geestelik weer reg en ek kan nie wag om die nuwe reëlveranderings by die afbreekpunte te toets nie,” het Stegmann aan Rekord gesê.
“My tyd langs die kantlyn het my ook gehelp om weer perspektief te kry op die rol van baljagters en ek sien uit om ’n paar nuwe dinge op die veld te doen,” was dié beskeie leier se opsomming van sy terugkeer.
Die Blou Bulle se veldtog begin met twee strawwe weg-wedstryde teen die Leeus en die WP, maar as hulle ’n oorwinning of twee so vroeg kan behaal, sal hulle sielkundige en andersins ’n voorsprong op die opposisie opbou.
Die span vir Saterdag se eerste Curriebeker wedstryd is:
Jurgen Visser, Akona Ndungane, JJ Engelbrecht, Burger Odendaal, Sampie Mastriet, Jacques-Louis Potgieter, Piet van Zyl, Jacques Engelbrecht, Jono Ross, Deon Stegmann (kaptein), Grant Hattingh, Paul Willemse, Werner Kruger, Callie Visagie, Dean Greyling. Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Marcel van der Merwe, Nicolaas Janse van Rensburg, Wiaan Liebenberg, Rudy Paige, Tony Jantjies, Jesse Kriel.
