Sport

Sport hoogtepunte, 13-14 September 2014

Vir al die sport hoogtepunte van die naweek, klik hier.

Die aksie in hierdie naweek se Castle Rugby Kampioenskappe sal bepalend wees vir die uitslag in vanjaar se reeks, aangesien die All Blacks die reeks basies kan beklink as hulle met volpunte op die puntelys kan wen.

Dié belangrike toets tussen die Bokke en die All Blacks is die groot attraksie vir Suid-Afrikaners in ’n naweek propvol sportaksie.

Rugby

Curriebeker: Ook in die Curriebeker toernooi sal verskeie wedstryde hierdie naweek deurslaggewend wees vir spanne se stand op die puntelys. As die Blou Bulle daarin kan slaag om Vrydagaand in Port Elizabeth weer volpunte te kry teen die OP Kings, sal hulle oornag na die vierde plek op die puntelys opskuif. Dit sal beteken dat die stryd in Bloemfontein, wat Saterdagmiddag om 15:00 afskop, uiters belangrik vir beide die Cheetahs en die Sharks sal word.

As die Sharks daar wen, neem hulle weer die vierde posisie op die puntelys terug, maar as die Cheetahs wen skuif hulle die Sharks af na die sesde plek op die puntelys.

Die Pumas, wat tot dusver vriend en vyand verras het en tans tweede op die puntelys lê, kan hul posisie verstewig as hulle die Griekwas in Kimberley kan klop. Die Noord-Kapenaars kan die top spanne natuurlik ’n guns bewys deur die Pumas se opmars te stuit. Dié wedstryd vind ook om 15:00 plaas.

Castle Rugby Kampioenskappe: Soos genoem, vind die groot aksie van die naweek Saterdagoggend reeds plaas as die Springbokke en die All Blacks mekaar in Wellington, Nieu-Seeland pak. Rugby-toetse kan nie groter as hierdie wees nie en Suid-Afrika sal weer om 09:30 tot stilstand kom om die Bokke te ondersteun.

Om 12:00 Saterdagmiddag kom Australië en Argentinië teen mekaar te staan in die ander belangrike toets van die Kampioenskappe wat in Queensland in Australië gespeel word.

Padwedlope

Die Voortrekkermonument Atletiekklub bied Saterdagoggend hul jaarlikse Ou Voetpad wedloop op ’n historiese roete in die weste van Pretoria aan. Deelnemers het ’n opsie om die hele roete te doen, wat 16km lank is. Daar is ook ’n 10km roete en natuurlik die gebruiklike 5km pretdraf vir almal wat net die bloed ’n bietjie vinniger wil laat pomp. Die 16km roete se atlete spring om 07:00 weg, terwyl die ander twee roetes se wedlope eers om 07:15 begin.

Vir diegene wat nie lus is om so vroeg op te staan op ’n Saterdag nie, is daar hierdie naweek ’n alternatief. Die bekende Jacaranda Spring Walk vind Saterdag by die Uniegeboue plaas. Daar is ook drie opsies, naamlik ’n 15km wedloop, ’n 8km wedloop en ’n 5km pretstap. Eersgenoemde wedloop begin om 15:30, die 8km wedloop se skoot sal om 16:30 klap en diegene wat aan die 5km pretstap deelneem, moet om 17:00 gereed wees om te begin.

Krieket

Op die krieketfront begin die kwalifiseringsrondte van vanjaar se Kampioeneliga hierdie naweek in Indië. Na afloop van die kwalifiseringsrondte sal die groepwedstryde Woensdag begin en Suid-Afrika se hoop in dié toernooi lê by die Cape Cobras en die Dolphins van Natal. Dié twee spanne se eerste bepalings is eers volgende naweek.

Ringbal

Een van die groot dae op die kalender van Suid-Afrikaanse Ringbal (voorheen Korfbal) vind eerskomende Saterdag, 13 September, op Korfbalpark in Gezina, Pretoria plaas.

Na afloop van die provinsiale kampioenskappe het die nasionale keurders in elke ouderdomsgroep nasionale spanne, asook uitnodigingspanne gekies. Dié spanne kom by Saterdag se toernooi teen mekaar te staan, wat beteken dat Ringbal van hoogstaande gehalte te sien sal wees. Die land se bestes en tweedebeste sal dus sake uitspook, met die uitnodigingspanne se spelers wat uiteraard almal sal wil bewys dat hulle eintlik in die uitsoekspanne moes gewees het.

Die verrigtinge begin reeds om 08:00 met die amptelike opening, waarna die aksie sal plaasvind.

Die publiek is welkom om die toernooi by te woon en daar sal genoeg te eet en te drink te koop wees. Korfbalpark is op die hoek van Fredrikastraat, 10de laan, Gezina.

Hengel

Die jaarlikse hengelkompetisie vir hengelaars wat met rolstoele oor die weg moet kom vind hierdie naweek by die Irene Country Lodge plaas.

Vanjaar se kompetisie beloof om beter en groter as enige vorige keer te wees. Hulp van vrywilligers is beskikbaar is vir diegene wat nie hul eie helpers saambring nie. Daar sal ook genoeg kwaliteit pryse wees, nie net vir die manne wat die grootste vis vang nie, maar ook in ander kategorieë.

Volg Rekord op Twitter of ‘like’ ons op Facebook vir meer nuus.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button