
Hoewel die Springbokke verlede week ’n bonuspunt-oorwinning oor die Aussies behaal het, kon die All Blacks ongelukkig dieselfde in Argentinië teen dié land se nasionale span doen.
Dít het veroorsaak dat die All Blacks in ’n onaantasbare posisie in die kompetisie is en reeds as vanjaar se kampioene van die Rugby Kampioenskapsreeks gekroon is. Tog was Saterdag se laaste toets in die reeks tussen die Bokke en die All Blacks op Ellispark teen Dinsdag reeds uitverkoop.
Rugby
Hoewel daar net twee rondtes oor is in vanjaar se Curriebekerreeks, kan baie dinge nog gebeur om die puntelys te skommel voor die halfeindrondte kandidate bepaal is.
Hierdie naweek is egter deurslaggewend en ten minste drie van die vier wedstryde wat plaasvind sal ’n invloed op die stand van die top vier spanne hê. Op hierdie stadium is dit net die WP en die Leeus wat verseker is van hul plekke in die halfeindrondte, maar die Sharks kan nog voor een van hulle eindig en daardie belangrike tuisveldvoordeel in die halfeindrondte kry.
Die wedstryd tussen die Blou Bulle en die Pumas, wat reeds Vrydagaand in Nelspruit plaasgevind het, is kritiek vir die Bulle. As hulle dié een verloor, is dit neusie verby vir hulle om die halfeindrondte te haal.
Vrydagaand het die Sharks en die Leeus ook reeds in Durban slaags geraak en die tuisspan sou dié wedstryd móés wen om hul tuis-halfeind drome lewend te hou. Twee nederlae na mekaar teen die twee top spanne (hulle speel volgende week teen die WP) kan die Sharks natuurlik ook heeltemal uitskakel vir die uitspeelfase.
Saterdag se wedstryd tussen die WP en die Vrystaat, wat as opwarming vir die groot toetsrugby sal dien, is vir die manne van Bloemfontein ook lewensbelangrik. As die Vrystaters verloor, sal die Blou Bulle of die Pumas hul neuse voor hê op die puntelys in volgende week se laaste rondte, waarin laasgenoemde twee spanne teen die twee onderste spanne op die puntelys speel.
Toetsrugby: Hoewel die All Blacks die afgelope Saterdag in Argentinië reeds seker gemaak het dat hulle vanjaar weer die Rugby Kampioenskapsreeks sal wen, is Saterdag se toets tussen hulle en die Springbokke steeds ’n liplekker vooruitsig vir rugbyliefhebbers. Toetsrugby kom nie groter as ’n stryd tussen die Kiwi’s en die Bokke nie en op Ellispark is dié tweestryd gewoonlik ekstra spesiaal. Daar is geen druk op enige van die twee spanne nie, so opwindende rugby behoort op die spyskaart te wees.
Padwedlope
Saterdagoggend kom die bekende National Bussiness Challenge Relay marathon weer in Rietondale Park in die Moot van Pretoria aan die beurt. Dié wedloop bestaan uit ’n standaard marathon van 42.2km of ’n 21.1 km halfmarathon, maar die verskil is dat besighede spanne kan inskryf waar die atlete mekaar aflos. Die wedloop word deur die Magnolia klub aangebied en albei die afdelings spring om 06:00 weg.
Krieket
Die Kampioeneliga krieketreeks staan einde se kant toe en slegs die eindstryd bly oor. Nie een van die twee Suid-Afrikaanse spanne, die Cape Cobras en die Dolphins van Natal, kon daarin slaag op die uitspeelfase te bereik nie. Die finaal vind op Saterdag 4 Oktober plaas tussen twee spanne van Indië. Die Chennai Super Kings en die Kolkata Knight Riders pak mekaar in Bangalore.
Intussen gaan wedstryde in die plaaslike Sunfoil vierdag reeks voort. Die Titans sal so gou moontlik weer op die wenpad wil kom ná hul rampspoedige begin teen die Highveld Lions. Hulle het hul tweede wedstryd in die toernooi reeds Donderdag teen die Warriors op Willowmoore Park in Benoni begin. Dié wedstryd behoort teen Sondag voltooi te wees.
Pretorianers kan ook die naweek na top skolekrieket gaan kyk. Die uitspeelfase van die nasionale Coca Cola T20 Skole-Uitdaagreeks (o.19 spanne) vind hierdie naweek (Vrydag tot Sondag) op Tukkies se krieketvelde plaas. Hoërskool Waterkloof verteenwoordig die Titans franchise en hulle het in die verlede besonder goed gevaar in dié toernooi. Die finaal word Sondagmiddag gespeel.
Fietsry
Die room van Suid-Afrika se skole-bergfietsryers sal hierdie naweek deelneem aan die finaal van die Super Hoërskole Bergfiets liga, wat sal plaasvind by die Bekker Landbouskool in Magaliesburg.
Die toernooi vind oor twee dae (Saterdag en Sondag) plaas. Meer as 300 bergfietsryers sal deelneem en strawwe kompetisie word verwag. Dié liga is in 2009 begin en het sedertdien drasties gegroei tot die huidige reeks wat landwyd én uit Namibië die beste jong bergfietsryers lok.
Netbal
Die Varsitybeker Netbaltoernooi is ook nog aan die gang en Tukkies is na vyf wedstryde steeds onoorwonne en bo aan die puntelys. Hierdie naweek is daar twee dae van aksie, wat die laaste liga-bepalings sal afhandel voor die halfeindrondtes op Maandag 13 Oktober gespeel sal word. Al die aksie sal hierdie naweek by die Universiteit van Johannesburg (UJ) plaasvind.
Tukkies speel Sondag teen die Pukke van Potchefstroom en Maandagaand speel hulle teen die Ikeys van die Universiteit van Kaapstad.
Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.
