Sport

Bulls klop Cheetahs in Pietersburg

Die Bulls het die Cheetahs in Pitersburg geklop in 'n opwarmingswedstryd vir die komende SuperRugby toernooi.

Frans Ludeke en sy bestuurspan het beslis by hul belofte gehou om van die Bulls vanjaar weer ’n opwindende rugbyspan te maak.

Dit is bewys toe die Bulls met ’n span sonder baie van hul sterre maklik met die Cheetahs afgereken het in hul oefenwedstryd in Pietersburg. Die eindtelling was 30-13.

Die Bulls het dalk nie baie nuwe spelers van buite gewerf vir hierdie seisoen se SuperRugby reeks nie, maar een van hul aanwinste, Lappies Labuschagne, was baie beslis ’n goeie kopie. Labuscagne het soos ’n ervare Springbok uitgetroon in die Bulls se oefenwedstryd teen die Cheetahs in Pietersburg, wat Saterdagmiddag in warm, bedompige weer beslis is.

Saam met ’n ewe indrukwekkende Deon Stegmann het Labuschagne die afbreekpunte in die eerste helfte oorheers en só die fondasie gelê waarop die Bulle se oorwinning gebou is. Stegmann het in die eerste helfte reeds gewys dat hy vanjaar terug sal wees op sy allerbeste en Frans Ludeke het hom wyslik teen rustyd van die veld gehaal om enige moontlike beserings te verhoed.

Die eerste helfte het, soos hierdie tipe wedstryde maar verloop, klipharde rugby sonder baie punte opgelewer. Die meeste punte is aangeteken waneer die skeidsregter strafskoppe by die afbreekpunte uitgedeel het.

Die Bulls het vroeg in die wedstryd gewys dat hulle lus is om met die bal te hardloop, maar ongelukkig is hulle voorspelers goed opgekeil en ’n gebrek aan goeie balbesit het veroorsaak dat daar vroeg in die wedstryd nie veel van hierdie voorneme gekom het nie.

Die Cheetahs het ook effens beter gelyk in die vaste skrums en wanneer hulle aan die dryf gegaan het, moes die Bulls keer vir al wat hul werd is.

In die tweede helfte het die wedstryd, ten spyte van die hitte en die vroeë seisoen, meer lewe gekry. Albei spanne het die bal begin lug gee en veral die Bulls se agterspelers het beïndruk met die wyse waarop hulle die spasie in die Cheetahs se verdedigingslinie aangeval het.

Die Bulls het in die tweede helfte genoeg balbesit gekry om die aanvallende spel te verskerp en met ’n bietjie geluk kon hulle daarin slaag om drie keer te gaan druk.

Die proefneming met William Small-Smith en JJ Engelbrecht as senterpaar was ook ’n reuse sukses. Small-Smith is só ’n begaafde speler dat hy sommer in sy eerste wedstryd in die nommer 12 trui reeds ’n uitblinker was.

Geharde Bloubul ondersteuenrs kan sommer ook maar gewoond raak aan die naam Jesse Kriel met die nommer 15 op die rug. Dié man is propvol kookwater rugby en hy gaan nog ’n groot held op Loftus Versfeld word.

Arno Botha het 40 minute speelkans gekry, maar hy het erg verroes gelyk. Harde werk lê vir hom voor voordat hy weer een van die land se opwindendste losvoorspelers sal wees.

Harde werk lê ook voor vir die Bulls in die vaste skrums, waar hulle net te maklik oorheers is deur Coenie Oosthuizen en sy kollegas.

Puntemakers:

 

BULLS: 30. Drieë: Piet van Zyl (2), Duncan Matthews. Doelskoppe: Tian Schoeman (3). Strafdoele: Jacques-Louis Potgieter (3).

 

CHEETAHS: 13. Drieë: Francois Venter. Doelskoppe: Francois Brummer (1). Strafdoele: Joe Petersen (1). Skepdoele: Joe Petersen (1).

 

Bulls: Jesse Kriel, Travis Ismaiel, JJ Engelbrecht, William Small-Smith, Jamba Ulengo, Jacques-Louis Potgieter, Rudy Paige, Hanro Liebenberg, Lappies Labuschagne, Deon Stegmann (kapt.), Marvin Orie, Jacques du Plessis, Werner Kruger, Bandise Maku, Morné Mellet.
Bank: Callie Visagie, Dayan vd Westhuizen, Nicolaas Janse van Rensburg, Grant Hattingh, Roelof Smit, Nardus van der Walt, Arno Botha, Piet van Zyl, Tian Schoeman, Dan Kriel, Ulrich Beyers, Duncan Matthews, Jurgen Visser

Cheetahs: Coenie van Wyk, Raymond Rhule, JW Jonker, Francois Venter, Sergeal Petersen, Joe Pietersen, Sarel Pretorius, Willie Britz, Tienie Burger, Jean Cook, Francois Uys (kapt), Lood de Jager, Coenie Oosthuizen, Torsten van Jaarsveld, Danie Mienie.
Bank: BG Uys, Ewald van der Westhuizen, Maks van Dyk, Stephan Coetzee, Carl Wegner, Carel Greeff, Armandt Koster, Tian Meyer, Francois Brummer, Ryno Benjamin, Oupa Mohoje, Clayton Blommetjies, Willie le Roux

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button