Nuwe lewe wag vir Maurice ná vyf jaar as Bulletjie
Hy sluit sy loopbaan in die Bulletjie-kostuum op Loftus Versfeld hierdie naweek af, maar as ’n mens na die lewensverhaal van dié jong entrepreneur en kunstenaar luister, kan jy nie anders as om saam met Maurice Enslin te glo dat hy vir nog baie groter dinge bestem is nie.
“Ek is eintlik ’n introvert, maar die oomblik as ek daardie kostuum aantrek, word ek ’n akteur… ja, in my hart is ek seker maar eerstens ’n akteur…”
Só gesels Maurice Enslin die afgelope week met Rekord op die vooraand van sy heel laaste optrede as duisende toeskouers op Loftus Versfeld se mees geliefde karakter, Bulletjie.
As Bulletjie Saterdag saam met die Bulls en die Sharks voor duisende toeskouers op Loftus Versfeld uitdraf, sal daar in Maurice se hart binne in dié kostuum sekerlik ’n bietjie harsteer wees saam met al die opwinding van ’n klipharde Suid-Afrikaanse derby in die SupeRugby-reeks. Dié vriendelike 26-jarige entrepreneur en sakeman groet die Bulletjie-kostuum en sy lewe as Bulletjie Saterdag ná presies vyf jaar sedert hy die eerste keer in dié gewaad uitgedraf het.
Hy onthou sy eerste wedstryd as Bulletjie asof dit gister was. Dit was in 2010 tydens die Bulls se eerste tuiswedstryd van die jaar teen die Brumbies. Maurice vertel dat hy as 21-jarige jongman trots was op die feit dat hy die nuwe lyf in die Bulletjie-kostuum kon word. Toe hy egter in die week met sy ouers, wat op Thabazimbi in die Bosveld woon waar sy pa as pastoor ’n gemeente bedien, oor die telefoon gesels moes hy hoor dat hulle nie die wedstryd sou kon bywoon nie. “Maar toe ek daardie dag op Loftus uitdraf het ek reguit langs die middellyn af gehardloop na die oorkant van die veld. Toe ek opkyk tussen die skare in, is die eerste ding wat ek sien my pa wat opspring en sy hande in die lug gooi. Dít was een van die grootste oomblikke van my lewe…”
Sy verhouding met sy ouers beskryf Enslin as ’n seën en ’n voorreg. Hy is in ’n vaste verhouding met ’n mediese student, maar het nie nou al trouplanne nie. Tog kan hy nie wag om eendag self ’n pa te wees nie. “Seker omdat ek bevoorreg was om die perfekte voorbeeld van my eie ouers te kon hê…”
Na daardie eerste ervaring vroeg in 2010 het nog hoogtepunte gevolg en Maurice het aan Rekord vertel dat om Bulletjie te kon wees hom op sy jeugdige ouderdom ongelooflik baie oor die lewe geleer het. “Ek het mense ontmoet wat ek andersins nie van sou geweet het nie en ek het geleenthede gekry waarvoor ek die res van my lewe dankbaar sal wees,” het hy vertel.
Volgens Maurice is die lewe as Bulletjie een van die mees besonderse wyses waarop enigeen mense se lewens kan verryk. “Jy is deel van hierdie pakket van vermaak wat só ’n groot deel is van so baie mense se lewens. Jy is inderdaad ’n akteur wat mense – oud en jonk – moet laat goed voel oor die ervaring by Loftus, maar daar is een groot verskil tussen die akteur in die Bulletjie-pak en ander akteurs. Die een oomblik vermaak ek duisende mense in ’n kostuum en ’n bietjie later, as ek weer net Maurice Enslin is, sal ek in die straat voor Loftus verby daardie massas mense loop en hulle sal nie weet wie ek is nie… Dit is nogal ’n unieke situasie om in te wees.”
As Enslin egter die kostuum uitgetrek het, is hy eintlik ’n ernstige mens met ernstige doelwitte in sy lewe. Hy maak juis klaar as Bulletjie omdat hy meer tyd en aandag moet bestee aan sy sakebelange. Hy is een van daardie besonderse mense wat genoeg selfvertroue het om byna enigiets te kan aanpak én dit kan laat werk. Hoewel hy aanvanklik vir ’n graad in sielkunde gestudeer het, het hy gou besef dat dit nie vir hom ’n bevredigende loopbaan kan skep nie. Hierna het hy deur selfstudie die voeding- en dieetaanvullings van sportmanne bestudeer en só het hy saam met ’n vennoot betrokke by ’n top internasionale produk geraak, waarvoor hulle nou ’n agentskap bedryf. Sommige Olimpiese atlete en selfs SupeRugby-spanne en provinsiale krieketspanne gebruik op die oomblik hul produk.
Enslin het egter nog nie sy droom om volwaardig akteur te wees laat vaar nie. “Dit bly my ander groot liefde,” het hy vertel. Hy is ook betrokke by ’n reeks musiekvideos vir kinders, waaraan hy saam met die bekende Hanna Grobler werk. Hy het ook die droom om eendag nog ’n gestremde persoon in ’n ernstige fliek te speel.
Moet egter nie verbaas wees as hy wel die dag ’n ernstige rol op die silwerdoek losslaan nie. Enslin is een van daardie mense wat daaraan glo om sy doelwitte neer te skryf en hulle doelbewus na te jaag. As ’n mens kyk na alles wat hy op sy jeugdige ouderdom al bereik het, kan jy seker wees dat Suid-Afrika nog lank nie die laaste van Maurice Enslin gesien het nie.
