Ludeke groet die Bulle finaal
Frans Ludeke het ’n ooreenkoms met die Blou Bulle Maatskappy bereik om sy kontrak te beëindig en hy sal sy bande met Loftus Versfeld onmiddelik verbreek.

Na agt jaar van sukses én ’n paar moeilike seisoene het Frans Ludeke, hoofafrigter van die Bulls, se verbintenis met dié span Woensdag tot ’n skielike einde gekom.
Hoewel Ludeke reeds direk na twee weke gelede se pakslae in die Bulls se laaste SuperRugby wedstryd van die jaar teen die Cheetahs die tuig as afrigter neergelê het, was daar steeds sprake van ’n senior posisie vir hom op Loftus Versfeld. Ludeke is in die wandelgange gekoppel aan die vakante pos van Direkteur van Rugby by die Blou Bulle Maatskappy (BBM), wat reeds vier jaar vakant is sedert Heyneke Meyer as afrigter van die Springbokke aangestel is.
Daar is gesê dat die Bulls nie tans die finansiële vermoë het om Ludeke se kontrak voortydig te beëindig nie. Hy het nog ’n kontrak met die Bulls gehad wat eers aan die einde van Oktober 2016 sou verstryk. Volgens berigte beloop Ludeke se salaris heelwat meer as R2-miljoen per jaar en die Bulls sou glo nie dadelik aan hom ’n sogemaande “goue handdruk” kon gee, wat inderdaad sou beteken dat hulle hom uit sy kontrak moes koop nie.
Die hoof uitvoerende beampte van die BBM, Barend van Graan, het Woensdag egter bevestig dat Ludeke finaal sy bande met dié maatskapy verbreek. Dit beteken dus dat daar ’n ooreenkoms tussen Ludeke en die BBM was om hom uit sy kontrak te koop.
Terwyl Ludeke se persoonlike toekomsplanne tans duister is, word daar reeds kliphard bespiegel oor sy opvolger. Die twee name wat die meeste in die wandelgange genoem word, is dié van die Junior Springbokke se afrigter, Dawie Theron, en die huidige voorspeler-afrigter, Victor Matfield. Die man wat intussen as afrigter van die Bulls se Curriebeker span aangestel is, Nollis Marais, is waarskynlik ook ’n kandidaat.
Hoewel Van Graan aangedui het dat die proses om ‘n opvolger vir Ludeke aan te stel, reeds begin het, wou hy geen verdere inligting gee nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
