Sport

Victor Matfield maak wéér geskiedenis in 2015

Victor Matfield se terugkeer na rugby en sy insluiting in die Sprinbokspan na vanjaar se wêreldbekertoernooi was van die begin af omstrede, maar dat hy homself gevestig het as ’n Suid-Afrikaanse rugbylegende kan nie ontken word nie.

Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers het soms die stokperdjie om langs ’n braaivleisvuur Springbokspanne te kies. Soms gaan hulle selfs verder en kies hul gunsteling span van alle tye. Die kans dat Victor Matfield die nommer-5 trui in die meerderheid sulke spanne sou dra, is besonder goed.

Hoewel hy gebore en getoë is in Pietersburg in die Bosveld, is Matfield al so lank deel van die Bloubul-kultuur in Pretoria, dat hy amper al saam met die meubels op Loftus Versfeld se inverntaris getel word.

Matfield is een van die heel groot rugbylegendes van Suid-Afrikaanse rugby. Met die vertrek van die Springbokke op hul Wêreldbekertoer na Engeland het hy reeds in 123 toetse vir sy land uitgedraf. As alles volgens plan verloop, behoort hy dié rekord tot kort duskant 130 op te skuif. Dit behoort boonop nie maklik gebreek te word nie, want Matfield was gelukkig om min beserings in sy loopbaan op te doen, terwyl hy dié rekord oor ’n tydperk van 14 jaar opgestel het. Hy is die eerste Springbok ooit wat ’n internasionale loopbaan oor 14 seisoene kon hê.

In elke wedstryd waarin Matfield in vanjaar se wêreldbeker-toernooi speel, sal hy boonop sy eie rekord as die oudste Springbok ooit verder verbeter, net soos hy die rekord vir die meeste aantal toetse sal verbeter.

Nóg ’n rekord wat Matfield opgestel het toe hy verlede Saterdagaand in sy eerste wedstryd teen Japan in die wêreldbekertoernooi van 2015 gespeel, was dat hy en Schalk Burger die eerste Suid-Afrikaners geword het om in vier soortgelyke toernooie te speel. Hulle hou tans die rekord vir drie toernooie saam met manne soos Joost van der Westhuizen, Os du Randt, John Smit en Bakkies Botha.

Van Botha gepraat, Matfield se rekord van 63 toetse as ’n slotpaar met hom sal ook nie maklik oortref word nie. Bittermin spelers haal 50 toetse as indivudu. Dit plaas dié twee legendes se rekord as kombinasie in perspektief.

Daar kan geen twyfel wees dat Matfield vir die grootste deel van sy loopbaan die beste lynstaanpringer en nommer-5 slot in die wêreld was nie. Hy word oral in die rugbyspelende wêreld daarvoor geëer.

Hy is ook ’n gebore leier en is tans sesde op die lys van Springbokkapteins wat die Bokke in die meeste toetse gelei het. Daarby was hy ook in al drie die seisoene waarin die Bulls die SupeRugby trofee kon wen die man wat voor gedraf het.

Sy terugkeer na toprugby op die ouderdom van 37, nadat hy twee jaar lank reeds uitgetree het, is deur baie bevraagteken. Of hy steeds die beste nommer-5 slot in die land is, dáároor kan met reg gedebatteer word. Dat hy egter wel nog goed genoeg is om met die jongmanne te kompeteer, dít het hy deeglik in SupeRugby én op die internasionale front bewys.

Behalwe vir sy twee jaar by die Griekwas kort na sy junior (o.21) jare by die Blou Bulle, was Matfield ’n Pretorianer en ’n Blou Bul in murg in been. Wat ookal by vanjaar se wêreldbekertoernooi gebeur, kan dit dus aanvaar word dat die naam van Victor Matfield vir dekades lank nog genoem sal word tussen die heel groot legendes van Suid-Afrikaanse rugby.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button