Sporthoogtepunte vir 28-29 Junie 2014
Lees aan vir die naweek se sporthoogtepunte.

Soos ons dit al gewoond geraak het elke vier jaar as dit tyd is vir Fifa se wêreldbekertoernooi, word alle sport op die oomblik oordonder deur dié groot gebeurtenis, wat vanjaar in Brazilië plaasvind.
Die interessante aspek van die sokker wêreldbekertoernooi is dat selfs mense wat normaalweg nie veel in sokker belangstel nie, ook tydens dié maandlange skouspel na wedstryde op TV kyk.
Die eerste fase van die toernooi is basies reeds afgehandel en hierdie naweek begin die fase van die sogenaamde “laaste sestien” om sake uit te spook om die kandidate vir die kwarteindrondte te bepaal. Slegs twee spanne van die Afrika-kontinent het na hierdie rondte deurgedring en hulle speel albei Maandag om ’n plek in die kwarteindrondte. Nigerië speel teen Frankryk en Algerië teen Duitsland.
Dit is ook interessant dat ’n groot hoeveelheid spanne uit Suid-Amerika na hierdie fase deurgedring het.
Rugby
Weens die skoolvakansie sal daar nie hierdie naweek enige skolerugby plaasvind in terme van skole wat teen mekaar speel nie.
Dis egter weer tyd vir die nasionale skoleweke vir provinsiale spanne en die Cravenweek vir laerskole kom eerste aan die beurt. Dié toernooi vind vanjaar in Durban plaas en hoewel die seuns reeds oor die naweek in dié hawestad begin aankom, sal die toernooi amptelik op Maandag 30 Junie begin.
Volgende week is dit ook tyd vir die langverwagte Enrista-trofee toernooi, die nuwe toernooi vir skoolseuns wat in samewerking met die Blou Bulle se klubs aangebied word.
Die doel van hierdie toernooi is eerstens om aan seuns wat ongelukkig was om nie een van die provinsiale spanne na die nasionale weke (Cravenweek, Akademieweek of Noordvaal week) te haal nie, wel ’n kans te gee om hul staal te wys in ’n verteenwoordigende span.
Tweedens is die doel van die toernooi om ’n voedingsbron vir klubs te skep, aangesien rugby op dié vlak tans sukkel om jong spelers te trek.
Die Blou Bulle se agt Carltonbeker klubs het elkeen ’n o.19 span bestaande net uit seuns in matriek gekies, wat dan in die kleure van die klubs teen mekaar sal speel in ’n toernooi op die Enrista-trofee . Hierdie toernooi begin op Dinsdag 1 Julie en sal op Loftus Versfeld se B- en C-velde beslis word. Daar sal op Dinsdag 1 Julie, Donderdag 3 Julie en Saterdag 5 Julie elke dag vier wedstryde plaasvind. Dinsdag en Donderdag se eerste wedstryde sal om 18:00 begin, terwyl Saterdag se aksie reeds om 09:00 die oggend begin met die groot finaal om 12:00 op die B-veld.
Saterdag voltooi die Springbokke ook hul verpligtings ten opsigte van die Juniemaand toetsreekse wanneer hulle Skotland op die Nelson Mandelabaai stadion in Port Elizabeth pak. Dié wedstryd sal om 17:00 begin.
Die Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria is in reses en sal weer op 19 Julie voortgesit word as die tweede rondte begin.
Padwedlope
Die Alpha Centurion atletiekklub bied op Saterdag 28 Junie die “Run for Bibles” halfmarathon aan vir al die langasems wat nou reeds genoeg herstel het van die Comrades om weer die langpad aan te durf.
Die wedloop begin om 07:30 (darem ’n bietjie later as gewoonlik weens die koue winterweer) en die wegspring/eindpunt sal op die sportgrond van Hoërskool Zwartkop wees. Behalwe vir die 21,1km halfmarathon sal daar ook ’n korter wedloop oor 10km wees, asook die gebruiklike 5km pretdraf vir die minder fikse deelnemers.
Tennis
Weens al die aandag wat die sokker in Brazilië trek het die beroemde Wimbledon toernooi hierdie week byna onopsigtelik en sonder groot media-aandag begin.
Hierdie naweek bereik die toernooi egter die belangrike vierde rondte (laaste 16) en dit is natuurlik ’n goeie alternatief vir al die sofapokkels wat die koue dae voor die kassie wil ontspan, maar nie noodwendig sokker wil kyk nie.
