Local sportSport

Sporthoogtepunte vir 9 – 10 Augustus

Die sporthoogtepunte vir die naweek.

Die Statebond Spele is verby en Suid-Afrika het toe werklikwaar tog by die mikpunt van 40 medaljes uitgekom, al was dit ook maar net. Ongelukkig het hulle in die proses twee plekke laer as in die verlede op die algehele vertoningslys geëindig, maar ten minste was daar meer individue wat presteer het.

Hierdie naweek is daar egter weer meer sport op die plaaslike front om na uit te sien, terwyl daar ook enkele groot sportgebeure op die internasionale sportvelde plaasvind.

Rugby

Skole: Die afdeling van die Beeldtrofee toernooi wat die meeste aandag trek, dié vir makroskole, bereik hierdie naweek die kwarteindronde en drie skole van Pretoria is nog in die wedloop. Centurion het verlede week met Flordia afgereken en kom hierdie naweek te staan teen Garsfontein, wat direk vir die kwarteindrondte gekwalifiseer het. Hoewel Garsfontein sekerlik die gunsteling behoort te wees, sal Centurion beslis nie gaan lê nie. Hulle sal ‘n alles insit en die wedstryd behoort skolerugby van die eerste water op te lewer.

Menlopark het die moeilike taak om Dr. EG Jansen van Boksburg te troef. Pretorianers sal egter hoop dat hulle dit wel regkry, want dit sal verseker dat ‘n skool van Pretoria in die finaal sal speel, aangesien die wenner van Garsfontein vs Centurion hulle dan in die halfeindrondte sal ontmoet.

In die afdeling vir Grootskole is Pretorianers se geld weer op Oos-Moot en Tuine, wat onderskeidelik teen Klerksdorp en Helpmekaar te staan kom. Tuine speel weg, terwyl Oos-Moot na die Noordweste reis vir hul tweestryd.

Vir Pretorianers wat graag skolerugby wil sien sonder die wedywering van ‘n liga, maar met al die swier en spanning van ’n dekade-oue derby, sal die wedstryd tussen Affies en Pretoria Boys High net die regte resep wees. Die wedstryd vind op Affies se veld plaas en meer as 10 000 toeskouers word verwag.

Klubrugby: Die groot finaal in vanjaar se Carltonbekerreeks word Saterdagmiddag om 17:00 op Loftus Versfeld se B-veld beslis. Dis alweer die twee ou aartsvyande, Tukkies en Polisie wat mekaar pak vir dié gesogte trofee en daar is bittermin te kies tussen die twee spanne. Polisie het die eerste rondte gewen en die Lucas Strachan Skild reeds ingepalm en hulle sal hul seisoen graag wil vervolmaak, deur ook weer die Carltonbeker te lig.

Suid-Afrika se oudste en bekendste rubytoernooi, die Curriebekerreeks, begin ook weer hierdie naweek. Vir die Blou Bulle begin die reeks met twee moeilike wegwedstryde na mekaar. Hulle sal egter eers op Saterdag 9 Augustus ook die eerste hekkie probeer kom teen die Leeus en dít nogal op die Johannesburgers se tuisveld, Ellispark. (Sien voorskou elders op Rekord se webtuiste)

Padwedlope

Die jaarlikse Castle Walk 10km wedloop kom op Satedag 9 Augustus by die Castle Walk winkelsentrum in Erasmuskloof aan die beurt. Die wedloop word aangebied deur Fit2000 in Pretoria en behalwe vir die 10km wedloop is daar ook ‘n 5km pretdraf vir die minder fikse deelnemers. Wegspringtyd is 06:30.

Gholf

Die Amerikaanse PGA kampioenskappe, een van die bekende groot vier of “majors” maak op Sondag 10 Augustus klaar op die Valhalla baan in Louisville, Kentucky.

Ongelukkig lyk dit of die Suid-Afrikaners hierdie keer uit die bus geval het en na twee rondtes is daar amper geen vooruitsig dat ‘n plaaslike speler die voorlopers sal kan bedreig nie. Na twee rondtes was Richard Sterne die Suid-Afrikaner met die beste posisie en dit was ook nie te waffers nie. Hy was ses houe agter die voorloper.

Louis Oosthuizen en Tim Clark was darem ook nog onder die baansyfer na die eerste twee rondtes.

Krieket

Die Suid-Afrikaanse “A” span se wedstryd teen Australië “A” in Townsville (noord van Brisbane), Australië is nog aan die gang en maak op Sondag 10 Augustus klaar.

Die Suid-Afrikaanse o.19 span speel ook in hul tweede wedstryd teen hul eweknie van Engeland in Northampton in ‘n vierdag wedstryd wat ook Sondag ten einde sal loop.

Fietsry

Die bekende Carousel Classic fietswedren vind Saterdagoggend by dié casino noord van Pretoria plaas. Die belangrikse wedloop is oor 110km deur ‘n pragtige Bosveld landskap.

Die wedren begin Saterdag-oggend om 07:00 en daar is verskillende kategorieë waarin deelnemers sal meeding.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button