Legendariese skole-rugbyafrigter tree af
Hy het byna 40 jaar gelede in 1975 as die jong Jacobus Phillipus Loots by die Laerskool Mayville aangemeld as onderwyser in Afrikaans, Basiese Tegnieke en Liggaamsopvoeding (LO). Toe hy onlangs ná ‘n lang en bevredigende loopbaan as adjunkhoof by dieselfde skool aftree, was hy egter baie meer as net ‘n onderwyser vir die honderde …
Hy het byna 40 jaar gelede in 1975 as die jong Jacobus Phillipus Loots by die Laerskool Mayville aangemeld as onderwyser in Afrikaans, Basiese Tegnieke en Liggaamsopvoeding (LO). Toe hy onlangs ná ‘n lang en bevredigende loopbaan as adjunkhoof by dieselfde skool aftree, was hy egter baie meer as net ‘n onderwyser vir die honderde leerlinge wat oor die jare onder sy invloed gevorm is. Só geliefd was Bussie Loots by sy voormalige leerlinge, dat sommige van hulle, wat vandag self al rondom 40 is, deel was van sy groot emosionele afskeidsgeleentheid by dié skool. Dié geliefdheid het egter meer te doen met sy vermoë as rugby-afrigter as enigiets anders. Hoewel hy oor die jare ook by sportsoorte soos atletiek en landloop betrokke was, het Loots homself oor dekades heen as loshande die beste rugbyafrigter in Pretoria op laerskolevlak vir verskeie generasies laerskoolseuns onderskei. Sy rekord spreek vanself. Hy het gewoonlik sy spanne van o.9 vlak af gebrei en dan jaarliks afgerig tot hulle in graad 7 vir die skool se eerstespan kon speel. Oor die laaste tien jaar van sy loopbaan het sy spanne nege ligas gewen. Loots het ook op hoër vlak erkenning gekry vir sy prestasies. Hy was tussen 1989 en 1998 nege jaar lank afrigter van die Blou Bulle se o.13 Cravenweekspan. Daarby was hy 28 jaar lank ‘n Cravenweekkeurder én 15 jaar lank voorsitter van die Blou Bulle se laerskole-afrigtingsvereniging. Toe hy in 1989 oorneem as afrigter van die laerskole Cravenweekspan het die Blou Bulle dié gesogte toernooi vir die eerste keer in die geskiedenis gewen. In die 10 jaar wat hy by dié span betrokke was, het hulle die Cravenweek altesaam ses keer gewen. In dié tyd het hy met latere sterre soos Fourie du Preez, Gary Botha, Geo en Jacques Cronjé en wyle Francois Swart gewerk. Loots erken dat sy liefde vir die mense van Moot in Pretoria ‘n invloed gehad het op die feit dat hy sy hele loopbaan lank by een skool, Laerskool Mayville, betrokke was. “Die seuns van Moot is hard en taai en hulle kán rugby speel. Dis lekker om met hulle te werk,” het hy gesê. Hy het ook vertel dat rugbyafrigting op laerskolevlak meer as net oor die tegniese aspekte van die spel gaan. “Die opvoedkundige waarde van rugby kan nooit onderskat word nie,” het Loots dit opgesom. “Rugby leer ‘n seun van dissipline, samewerking in ‘n span én dinge soos lojaliteit.” Diegene wat egter oor die jare deur Loots se rugbymeule by Laerskool Mayville is, gee hom weer al die krediet vir die feit dat dié relatiewe klein skooltjie soveel rugbysukses kon behaal. Een van die vrae wat ‘n mens prikkel as jy hom ontmoet, is die oorsprong van sy noemnaam, Bussie. Hy is ‘n skralerige man, so dit kan nie iets met sy liggaamsbou te doen hê dat hy dalk na ‘n bus vernoem is nie? “Nee, dit is maar iets wat reeds in my grootword-jare daar in die Noord-Kaap uit my doopnaam, Jacobus, ontstaan het. Eers was ek Jacobussie, maar dit was te lank. Toe word ek later net Bussie”. Dis ook daar in die Noord-Kaap dat hyself naam gemaak het as rugbyspeler en in sy matriekjaar was Loots ‘n kranige haker vir Griekwaland-Wes se hoërskolespan. Hoewel hy uitsien na die nuwe fase in sy lewe as pensioenaris, kan Loots homself nie op die stoep sien sit nie. As oud Basiese Tegnieke onderwyser kan hy homself in ‘n werkswinkel handhaaf en hy sien daarna uit om as nutsman besig te bly met handewerk en instandhouding. Hy sien ook daarna uit om meer tyd op die gholfbaan deur te bring. Dan sal hy beslis ook steeds rugby wil afrig en die bestuur by Mayville Laerskool het reeds met hom daaroor begin onderhandel.
