Local sportSport

Danie Venter beïndruk Klitschko broers

Hoewel Danie Venter in Desember in die Ukraine teen Oleksandr Usyk verloor het, het hy so ’n goeie vertoning gelewer dat die bekende Klitschko broers hom terug wil lok Oos-Europa toe.

Danie Venter, die Wêreld Boksfederasie (WBF) se junior swaargewig bokskampioen, is ‘n baie teleurgestelde man.

Hy sê hy is teleurgesteld in homself en hy kan homself skop dat hy die Wêreld Boksorganisasie (WBO) se interkontinentale junior swaargewigtitel deur sy vingers laat glip het toe hy op 13 Desember in die Sport Palace in Kiev (Ukraine) teen Oleksandr Usyk verloor het.

Pieter de Wet van Venter se promotor-agentskap, Real Steel, stem saam dat Venter rede het om teleurgesteld te wees. “Hierdie was Danie se groot kans om ‘n deurbraak te maak en ‘n tree nader te kom aan ‘n geleent­heid om vir een van die groot titels te boks. Hy het inderdaad ‘n skitterende vertoning gelewer en teen die agtste rondte was hy voor op punte en goed op pad na ‘n oorwinning. Usyk is ‘n besonder goeie bokser en veral sy voetwerk was puik. Danie het hom heeltyd in die kryt rondgejaag en punte opgestapel, maar hy kon Usyk eenvoudig nie in ‘n hoek vaskeer om hom regtig seer te maak nie,” het De Wet gesê.

Volgens De Wet het Venter erken dat hy in die negende rondte ‘effens konsentrasie verloor het.’ Dit was ‘n groot fout teen ‘n puik bokser soos Usyk, die gewese Olimpiese gouemedalje-wenner van Ukraine het ‘n gaping gevind en Venter met ‘n voltreffer op die kakebeen geskud.

“Danie het afgesak op sy een knie vir die telling van agt, sodat hy van die hou kon herstel. Volgens hom was hy egter gereed om daarna voort te gaan, veral aangesien daar minder as ‘n minuut van die rondte oor was. Toe stop die skeidsregter summier die geveg…”

Venter is egter nie die soort sportman wat verskonings soek as hy verloor nie. Ook sy afrigter, Charles Backhouse, het aan Rekord gesê dat Venter eerder teleurgesteld is met sy eie fout daar in die negende rondte as wat hy ander verskonings wil soek.

“Wat ek wel kan sê is dat Danie in sy hart wéét hy kon die geveg gewen het. Ons was nog in die kryt, toe sê hy al vir my ons moet reël vir ‘n herontmoeting.”

Volgens De Wet wou die manne van K2 Promosies, wat deur die beroemde Klitschko-broers van Ukraine bestuur word, nie instem tot ‘n herontmoeting nie. Die 27-jarige Usyk is dié kamp se superster en hulle wil hom glo só bestuur dat hy in ‘n rekordtyd een van die groot wêreldtitels kan inpalm. Hulle weet ook dat hul bokser gelukkig was om die geveg teen Venter om te keer met daardie een goeie hou. Daarom sal hulle nie die risiko wil loop om weer teen Venter te veg nie.

De Wet het egter aan Rekord gesê dat Venter baie aanhangers bygekry het in die Ukraine. “Vooraf was daar ‘n vyandigheid, maar na die geveg het handtekeningjagters tou gestaan vir Danie se handtekening, terwyl die plaaslike media van Ukraine almal ‘n onderhoud wou hê.”

Ná hierdie geveg word Venter beslis as ‘n trekpleister in Oos-Europa beskou en volgens De Wet stel K2 Promosies belang om hom so gou moontlik weer daar in aksie te sien. “Danie wil eerder voor sy eie mense boks, maar soos dinge nou staan is daar net nie geleenthede nie. Daarom sal hy waarskynlik eers terugkeer Oos-Europa toe voor hy weer plaaslik boks,” het De Wet gesê.

Backhouse het bevestig dat daar reeds aanbiedings was en dat Venter selfs so vroeg as April vanjaar weer onder K2 Promosies se vaandel in die kryt kan klim.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button