Formule-een nostalgie op Zwartkops
’n Nostalgiese oomblik wat die afgelope naweek op die Zwartkops renbaan plaasgevind het, het motorresies entoesiaste weer daaraan herinner dat Suid-Afrika byna 40 jaar gelede twee broers opgelewer het wat saam met die beste renjaers in die wêreld kon jaag.
Die 67-jarige Ian Scheckter het Saterdag op die Zwartkops-renbaan in Centurion die horlosie veertig jaar teruggedraai toe hy verenig is met sy Tyrrell Ford 007 Formule-een (F1) renmotor.
In 1974 het Ian Scheckter se jonger broer, Jody (Suid-Afrika se enigste F1-wêreldkampioen ooit) in die einste Tyrrell 007 agtste geëindig, nadat hy ook in dieselfde posisie weggespring het in die Suid-Afrikaanse Grand Prix op Kyalami.
Ian Scheckter het in 1975 die Tyrrell-span oorgeneem en vir Lexington aan die plaaslike F1-jaerskampioenskap deelgeneem. In die plaaslike Grand Prix het Ian sewentiende gekwalifiseer maar moes hom aan die wedren onttrek nadat hy in ‘n botsing betrokke was tydens die 55ste rondte.
Jody het in ‘n soortgelyke motor derde weggespring en tot die duisende plaaslike toeskouers se vreugde sy tuis Grand Prix gewen. In 1975 was Ian in ‘n titaniese stryd gewikkel met die heersende kampioen, Dave Charlton, wat in ‘n Lucky Strike McLaren M23 gejaag het.
Hoewel Ian Scheckter vyf teen Charlton se drie wedrenne gedurende die seisoen gewen het, was dit uiteindelik Charlton se bestendigheid met ‘n verdere vyf tweede plekke wat aan hom sy sesde titel besorg het. In 1976 het dinge egter nie veel beter uitgedraai vir Ian Scheckter tydens sy tuis Grand Prix op Kayalami nie. Hy het sestiende weggespring maar moes hom kort na die wegspring onttrek, nadat hy wéér in ‘n botsing betrokke was.
Jody Scheckter het sy eerste Grand Prix in ‘n Tyrrell Ford 007 gewen en ouboet Ian het sy puik vertonings in ’75 opgevolg deur self die Suid-Afrikaanse jaerskroon ses keer te wen tydens die Formule Atlantic/F2-era wat in 1976 begin het.
Vir die toeskouers langs die renbaan was dit voorwaar ‘n groot voorreg om dié Tyrrell en Ian Scheckter na veertig jaar weer in aksie te kon sien.
