Nuwe rekord vir veteraan atleet in moordende marathon
Om marathons en ultra marathons te voltooi is vir enige atleet ’n prestasie. Om egter meer as 500km in tien dae te stap, verg ’n spesiale soort uithouvermoë én ’n baie sterk kop.
Om 536km binne tien dae te stap en tussenin net ‘n paar uur per dag te slaap, sit nie in elke man se broek nie. Om dit op die ouderdom van 70 te doen, is beslis ‘n prestasie wat getuig van ‘n wêreldgehalte-atleet.
Twee jaar gelede het Rekord reeds Sol Jacobs van Montana se storie vertel. Toe het hy as 68-jarige atleet reeds die kollig op hom laat val met sy prestasies as stapper. Tydens die onlanse Festival of Running, wat by die Nothview High School in Johannesburg aangebied is, het Sol egter nuwe hoogtes in sy lang loopbaan as atleet bereik.
Dié superfikse Pretorianer het, terwyl ander Suid-Afrikaners voorberei vir die feestyd, saam met verskeie atlete deelgeneem aan die Festival of Running-byeenkoms in Johannesburg, waar die langasems hul uithouvermoë in verskillende langafstand-wedlope kon toets. Omdat Jacobs reeds die korter weergawes in vroeëre pogings kafgedraf het, het hy besluit om hierdie keer die wedloop oor tien dae aan te pak. Die beloning op sukses was egter groot en hoewel Jacobs algeheel negende geëindig het in die wedloop, het hy outomaties ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord vir mans oor 70 opgestel.
Net 17 atlete het kans gesien vir dié tiendag-monster. Dit was ‘n internasionale groep, met deelnemers wat van so ver as Amerika, Australië, Brasilië en Israel gekom het. Onder hulle was daar drie stappers en 14 hardlopers. Die atlete hardloop en stap dan om ‘n baan van byna ‘n halwe kilometer (471m) en só word hul finale afstand daagliks uitgewerk.
Jacobs was die oudste deelnemer, maar vertel trots dat hy waarskynlik die minste probleme gehad het om die tien dae te voltooi. Met die wysheid wat ervaring bring weet hy al hoe om dinge soos blase op die voete, dehidrering en ander probleme te voorkom. Hy is ook uiters gedissiplineerd en sy slaap- en eetroetine word deeglik uitgewerk.
“Die geheim tot sukses begin egter by jou voorbereiding. Baie manne se totale voorbereiding behels net padwerk. Ek het egter deur ervaring geleer dat ‘n gesonde balans tussen padwerk, gimnasiumwerk en baie strekoefening vir soepelheid uiters noodsaaklik is,” het Jacobs gesê.
Volgens Jacobs is die afgelope byeenkoms moeiliker gemaak deur gure weersomstandighede. “Dit is nou waar die ander kwaliteit van ‘n goeie atleet in hierdie soort byeenkomste inkom. Jou kop moet sterker wees as die res van jou liggaaam,” het hy aan Rekord vertel.
Van geestelike krag en uithouvermoë kan min mense dié veteraan iets leer. Hy het immers al 10 keer die Comrades-marathon voltooi, terwyl hy die Twee Oseane-marathon ook al sewe keer kafgedraf het. Ultra-marathons is trouens sy kos. Vroeër jare was hy ‘n hardloper, maar die afgelope sewe jaar spesialiseer hy as stapper. In sy atletiekloopbaan het hy egter al elke moontlike ultramarathon in Suid-Afrika voltooi.
Jacobs is eintlik al ‘n paar jaar afgetree, maar getrou aan sy geaardheid, kan hy nie op die stoep sit en niks doen nie. Hy werk steeds as gehaltebeheerkonsultant in die staalbedryf en pas sy oefenprogram tussendeur in.
