Local sportSport

Ludeke verras met Spies op reserwebank

Victor Matfield en Arno Botha in die beginspan en Pierre Spies op die reserwebank, terwyl Francois Hougaard op vleuel sal uitdraf. Dís die verrassende keuses waarmee Frans Ludeke vorendag gekom het vir die Bulls se eerste SuperRugby wedstryd teen die Stormers eerskomende Saterdag op Loftus Versfeld.

Frans Ludeke, afrigter van die Bulls, het die rugbywêreld verras toe hy sy span bekendgemaak het vir Saterdag se SuperRugby openingswedstryd teen die Stromers op Loftus Versfeld.

Daar was ’n hele paar uitroepe van verbasing toe Ludeke se span Woensdagmiddag by die seisoen se eerste perskonferensie op Loftus Versfeld bekendgemaak is. Die ontbreking van Pierre Spies se naam in die beginspan was hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik.

Spies sal van die bank af gebruik word, terwyl Arno Botha in die beginspan opgeneem is om ’n formidabele lostrio met Deon Stegmann en Lappies Labuschagne te vorm.

Saam met Labuschagne is altwee die ander aanwinste uit Bloemfontein, Adriaan Strauss en Trevor Nyakane, ook in die beginspan.

Victor Matfield, wat op 37-jarige ouderdom geen deel gehad het aan die aksie in die oefenwedstryde nie, is in die beginspan opgeneem en as kaptein aangewys. Hy was in November in Europa laas vir die Springbokke in aksie. Hy en Botha sal Saterdag waarskynlik elk net een helfte speel, waarna hulle deur Grant Hattingh en Spies vervang sal word, met Spies wat dan die kapteinskap oorneem.

Agterlangs het Ludeke ook effens verras deur Francois Hougaard in sy beginspan op linkervleuel te kies. Daar is algeneem verwag dat Hougaard op skrumskakel sal begin en daarna vleuel toe sal skuif. Hy sal nou waarskynlik die hele wedstryd op vleuel speel, aangesien Rudy Paige op die reserwebank gekies is om Piet van Zyl se adjudant op skrumskakel te wees.

Oor die algemeen lyk die Bulle se span redelik goed en daar is volgens Ludeke en Matfield ’n baie postiewe gees onder die spelers. Die enigste ware swakplek wat deur die Stormers uitgebuit kan word is in die voorry. Die Bulle het verskeie terugslae onder hul stutte gehad en een van twee twintigjarige vaskoppe sal vir Werner Kruger instaan as hy sou vervang word. Dayan van der Westuizen, wat eers in April 21 jaar oud word, is die eerste keuse, maar hy sukkel nog met ’n moontlike voetbesering. As hy nie kan speel nie, sal nog ’n jongeling, Neethling Fouché, as reserwe vaskop diens doen.

Van der Westhuizen was drie jaar gelede een van die proefkonyne wat in die Kaap gewerf is en reeds as skoolseun na Pretoria gelok is. Hy was deel van die suksesvolle span van Hoërskool Centurion wat daardie jaar die interprovinsiale NuPower Tuksreeks gewen het en hy het ook vir die Blou Bulle se skolespan uitgedraf.

Die Springbok loskopstut, Dean Greyling, kon ook weens ’n besering nie vir die wedstryd oorweeg word nie.

Weens die keuse van Hougaard op vleuel en ’n ekstra skrumskakel op die bank, was daar geen plek vir een van die manne wat in die oefenwedstryde gelyk het na die planmaker in die Bulle se nuwe meer innoverende spelpatroon nie. William Small-Smith is glad nie deel van die 23-tal nie.

 

Die Bulls (met SuperRugby wedstryde gespeel in hakkies) is: Jurgen Visser (25), Bjorn Basson (71), JJ Engelbrecht (49), Jan Serfontein (28), Francois Hougaard (72), Handrè Pollard (13), Piet van Zyl (44), Arno Botha (22), Lappies Labuschagne (27), Deon Stegmann (79), Victor Matfield (kaptein, 138), Jacques du Plessis (15), Werner Kruger (108), Adriaan Strauss (106), Trevor Nyakane (42).

Plaasvervangers: Callie Visagie (38), Mornè Mellet (24), Dayan vd Westhuizen (0)/Neethling Fouchè (0), Grant Hattingh (34), Pierre Spies (103), Rudy Paige (7), Jacques-Louis Potgieter (56), Jesse Kriel (1).

For more breaking news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

Also visit our Facebook and Twitter pages.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button