Local sportSport

Bulls-rugby diep in die moeilikheid

Die Bulls se swak vertoning in Saterdag se eerste SuperRugby wedstryd van die jaar het onmiddelik alarms en rooiligte laat aangaan en dit lyk of daar groot probleme vir Frans Ludeke en sy span wag in die maande wat voorlê.

Die berg het toe ‘n muis gebaar… en hoewel Saterdag se vernederende pakslae teen die Stormers maar die eerste wedstryd van die jaar vir Frans Ludeke se Bulls was, is die skrif reeds duidelik genoeg aan die muur om te kan verklaar – die Bulls is in die moeilikheid.

Die ‘berg’ was die baie praatjies vooraf en oënskynlike goeie vertonings in oefenwedstryde teen twyfelagtige opposisie. Die muis het Saterdag teen die Stormers op Loftus Versfeld sy verskyning gemaak… en veroorsaak dat Bloubul-grappies uit verlede jaar se Curriebekerreeks onmiddelik weer afgestof kon word.

Die diagnose is regtig eenvoudig: ‘n Mens kan nié tradisionele Bloubul-rugby speel as jou pak voorspelers nie die teenstander kan oorheers nie. Finish en klaar!

Die Bulls se probleme het Saterdag in die vaste skrums begin en uitgekring na hul algehele voorspelerspel. Dit was duidelik dat die twee mees senior voorspelers, Victor Matfield en Adriaan Strauss, nié wedstrydfiks was nie. Hulle het albei na twintig minute begin sukkel om by te hou en veral Matfield was geen faktor in hierdie wedstryd nie.

Daarenteen het die Stormers se jong vaste vyf (met ‘n gemiddelde ouderdom van 23) soos een man onder ‘n kombers gespeel en die Bulls voorlangs vernietig. Dis seker nie ‘n gewilde stelling om te maak in ‘n stad waar Matfield ikoon-status het nie, maar hy mag die dag toe hy op Heyneke Meyer se aandrang na die speelveld teruggekeer het, binnekort bittterlik berou.

Terug na die skrumwerk. Dit is werklik onbegryplik dat ‘n unie soos die Bulls, wat die middele tot hul beskikking het om die beste hulp moontlik te kry, nie hul skrumwerk kan uitsorteer nie. Frans Ludeke het byna geïrriteerd geraak toe hy vooraf hieroor uitgevra is. Feit is egter dat sy span in byna elke skrum in die wedstryd in trurat was. Dit het van die eerte skrum af gebeur en daar kan dus nie verskoning wees dat Werner Kruger se besering ‘n probleem geskep het nie. Waarom het Ludeke dan nie sy spesialis-vaskop op die bank opgebring nie? As hy bang was dat dié 20-jarige jongeling nie die mas sou opkom nie, waarom was hulle in elk geval in die posisie dat ‘n junior soos Dayan van der Westhuizen die enigste rugsteun in dié uiters belangrike posisie kon wees?

Die Bulls se ondersteuners is woedend en hulle het na dese alle reg om te wees. Iewers is ‘n lelike slang in die gras en hy sal baie gou uitgesnuffel moet word. Daar was Saterdag geen ordentlike samespel nie, die Bulls het in die basiese aspekte van die spel misluk en dit het nie gelyk of hulle behoorlik gemotiveerd was nie. Dalk fisiek onfiks? Dalk geestelik?

Laasgenoemde is dalk nader aan die waarheid. Die geestelike taaiheid en selfvertroue van die kampioenspan van vyf jaar gelede ontbreek duidelik. Die Bulls sal eenvoudig nie nog ‘n seisoen sonder bevredigende prestasie kan bekostig nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button