Tukkies klop Ikeys met puik rugby
Pote Human se Tukkies het Maandagaand teen die verdedigende kampioene in die Vasitybeker toernooi gewys dat die span wat vanjaar dié gesogte trofee wil wen, eers by hulle verby sal moet kom.
Nadat Tukkies sy Varsitybeker-rugbyveldtog verlede week met ’n onbevredigende gelykopuitslag teen die Shimlas in Bloemfontein begin het, het Wiaan Liebenberg en sy troepe Maandagaand op hul tuisveld gewys dat hulle weer vanjaar ’n faktor gaan wees in dié toernooi deur die verdedigende kampioen, Ikeys, deeglik met 39-24 te klop.
Hoewel Tukkies in die proses ses drieë kon druk, was die wyse waarop hy die Kapenaars in hierdie stryd verniel het, eerder belangrik as daar oor die res van die reeks gepraat word. Tukkies was werklik indrukwekkend. Hy het elke aspek van die spel oorheers en die balans in hul span is een van sy sterkpunte.
As hierdie span speel soos Maandagaand teen die Ikeys, is daar geen rede waarom hy nie vanjaar weer, soos in 2012 en 2013, as Varsitybeker kampioen gekroon kan word nie.
Die Ikeys was ook nie ’n teenstander wat sommer gaan lê het om geslag te word nie. Dié manne het met dieselfde ingesteldheid gespeel as verlede seisoen, toe hulle in die doodsnikke van die eindstryd tot kampioen gekroon is. Hulle wou eenvoudig nie besgee nie en het in die tweede helfte self drie drieë gedruk.
Die Pretorianers se aanslag het egter voorlangs begin. Srums was solied, dryfwerk het drie drieë opgelewer, Ruan Steenkamp en Wiaan Liebenberg was puik by die afbreekpunte en die slotte, Irne Herbst en Reniel Hugo was ewe indrukwekkend in die lynstane. Dié twee reuse het ook meer as hul deel gedoen in die algemene spel en veral Herbst se laagvatte het veroorsaak dat ’n paar van die Ikeys se manne waarskynlik ’n pynpilletjie of twee sou moes sluk op die vliegtuig terug Kaapstad toe.
Miskien moet die bestuur van die Bulle dringend die treinspoor langs Loftus oorsteek en gaan hulp soek by die ervare Pote Human. Dié man weet nou maar net hoe om ’n pak voorspelers af te rig.
Ná die Pretorianers se glips verlede week in Bloemfontein, waar hulle ’n groterige voorsprong prysgegee het om uiteindelik gelykop te speel met die Shimlas, het hulle Maandagaand op hul tuisveld eenvoudig ’n rat of twee verwissel om met puik rugby vorendag te kom. Eerskomende Maandag is dit die ander Kapenaars, Maties, se beurt om die Tuks Rugbystadion te besoek en al die Pretorianers wat daarvan praat om die Bulle te boikot kan gerus dan maar na Tukkies gaan kyk. As die span speel soos teen die Ikeys, sal toeskouers by hul wedstryde vanjaar ten minste die kans kry om te sien hoe rugby veronderstel is om gespeel te word.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter/ Facebook of besoek ons webtuistes:
