Local sportSport

Tuks-rugby lok studente-toeskouers terug met burgers en bier

Opwindende kompetisies met groot hoeveelhede hamburgers en bier as pryse, het studente van Tukkies blykbaar oortuig om weer hul span tydens tuiswedstryde in die Vasitybekerreeks te ondersteun.

Dit lyk of Tukkies se Varsitybeker-rugbyspan se vernederende dae van tuiswedstryde voor leë paviljoene vir eers verby is.

Met die hulp van twee van die Varsitybeker toernooi se borge het Tuks se rugbybestuur blykbaar daarin geslaag om die studente te laat terugkeer na die stadion tydens wedstryde in dié reeks.

Dit is algeneme kennis dat duisende student van Tukkies hul span se tuiswedstryde die afgelope twee seisoene geboikot het uit protes, nadat die rugbyklub se bestuur in 2012 besluit het dat hulle toegangsgeld by wedstryde gaan vra. In die vorige reekse tussen 2008 en 2011 was toegang gratis en die Tuks Rugbystadion het soms uit sy nate gebars as die tuisspan in aksie was. Studente het die graswalle én die paviljoene volgepak om hul span te ondersteun.

Verlede seisoen het gure weer boonop twee van Tukkies se tuiswedstryde tot só ’n mate beïnvloed, dat letterlik net die getrouste familielede van die spelers, amptenare van die klub en die spanbestuur by dié wedstryde opgedaag het.

Slim promosieveldtogte, wat ook kompetisies in koshuisverband insluit, het studente Maandagaand egter weer in hul hordes na Tukkies se wedstryd teen die Ikeys laat stroom. Hierdie promosieveldtogte sluit kompetisies in waar studente groot hoeveelhede hamburgers en bier van twee van die hoofborge kan wen.

Aanvanklik wou dit Maandagaand lyk of die boikot voortduur, omdat die paviljoene tot tien minute voor afskoptyd nog betreklik leeg was. Kort hierna het koshuisstudente, meestal geklee in hul koshuisdrag, deur die hekke begin stroom om op die graswalle en die oostelike paviljoen stelling in te neem. Hul entoesiastiese deelname aan aktiwiteite wat met die kompetisies verband hou het gewys hoe suksesvol dié promosieveldtogte was.

Intussen het Tukkies Maandagaand in die eerste tuiswedstryd van die seisoen puik rugby opgedis. As hulle hiermee aanhou, behoort die studente in elk geval terug te keer na die stadion om hul span te help om weer die eerste prys in dié gesogte kompetisie te jag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button