Bulls se probleme vererger ná omstrede nederlaag teen Hurricanes
Die druk is besig om op te bou vir Frans Ludeke en sy Bulls, nadat hulle Vrydagaand hul tweede agtereenvolgende nederlaag in vanjaar se SuperRugby toernooi gely het.
Die Hurricanes van Nieu-Seeland het die Bulls Vrydagaand op Loftus Versfeld hul tweede nederlaag in twee weke op hul tuisveld laat ly in ’n saai wedstryd wat eerder vir sy omstredenheid onthou sal word. Die eindtelling was 17-13 in die guns van die manne van Wellington.
Nadat die Bulls aanvanklik baie goed begin het, het hulle wéér, soos verlede week teen die Stormers, hul greep op die wedstryd na sowat tien minute verloor.
Hierna het die foute begin insluip en die skeidsregter het die Bulls reëlmatig gestraf. Beauden Barrett, losskakel van die besoekers, het in die eerste halfuur twee van hierdie strafskoppe in punte omskep.
Kort voor rustyd het die Bulls egter weer op die aanval gegaan en nadat Handré Pollard eers ’n strafdoel deur die pale gejaag het, was dit twee minute later weer sy beurt om punte aan te teken. Hierdie keer was dit deur middel van ’n puik drie. Hy het afgerond, nadat die Bulls die bal deur verskeie fases gedra het.
’n Strafdoel deur Barrett het die rustydtelling op 10-9 in die Bulls se guns laat staan.
Na rustyd het die Hurricanes vir nog ’n halfuur lank beheer oor die wedstryd geneem en op ’n stadium het hulle baie lank in die Bulls se kwartgebied kamp opgeslaan.
Uiteindelik was die die All Black senter, Julian Savea, wat sy span weer laat voorloop het met ’n opportunistiese drie ná ’n tikskoppie van ’n strafskop af.
Die Bulls het teen die einde egter mooi teruggeveg en twee minute voor die eindfluitjie is Grant Hatting in die hoekie oor. Die TV-skeidsregter, Johan Greeff, het egter op omstrede wyse besluit dat Hattingh se hand eers aan die kantlyn geraak het en die drie is nie toegeken nie.
Hierna het die Bulls alles in hul vermoë gedoen om besit te kry, maar die horlosie het hulle uiteindelik geklop en hulle het vir die eerste keer sedert 2008 twee wedstryde na mekaar op hul tuisveld verloor.
Puntemakers:
BULLS: 13. Drieë: Handré Pollard. Doelskoppe: Handré Pollard. Strafdoele: Handré Pollard (2).
HURRICANES: 17. Drieë: Julian Savea. Strafdoele: Beauden Barrett (4).
Spanne:
Bulls: 15. Jesse Kriel, 14. Bjorn Basson, 13. JJ Engelbrecht, 12. Jan Serfontein, 11. Francois Hougaard, 10. Handré Pollard, 9. Piet van Zyl, 8. Pierre Spies (kaptein), 7. Pieter Labuschagne, 6. Deon Stegmann, 5. Victor Matfield, 4. Jacques du Plessis, 3. Trevor Nyakane, 2. Adriaan Strauss, 1. Morné Mellet.
Plaasvervangers: 16. Callie Visagie, 17. Dean Greyling, 18. Dayan van der Westhuizen, 19. Grant Hattingh, 20. Pierre Spies, 21. Rudy Paige, 22. Jacques-Louis Potgieter, 23. Jurgen Visser.
Hurricanes: 15. Jason Woodward, 14. Cory Jane, 13. Conrad Smith, 12. Ma’a Nonu, 11. Julian Savea, 10. Beauden Barrett, 9. TJ Perenara, 8. Blade Thomson, 7. Callum Gibbins, 6. Brad Shields, 5. James Broadhurst, 4. Mark Abbott, 3. Ben Franks, 2. Dane Coles, 1. Reggie Goodes.
Plaasvervangers: 16. Brayden Mitchell, 17. Jeffery Toomaga-Allen, 18. Chris Eves, 19. Ardie Savea, 20. Victor Vito, 21. Chris Smylie, 22. James Marshall, 23. Matt Proctor.
Skeidsregter: Andrew Lees
Assistent skeidsregters: Jaco van Heerden, Rohan Hoffmann.
TV Skeidsregters: Johan Greeff
