Polisie skop Gemeenskapseker veldtog met oorwinning af
Pretoria Polisie is gemaklik oor hul eerste hekkie in die Gemeenskapsbekerreeks ná hu puik oorwinning die afgelope naweek.
Pretoria Polisie het hul veldtog in die Gemeenskapsbeker-reeks op ‘n positiewe noot begin, toe hulle Noordelikes van Limpopo die afgelope Saterdag op hul tuisveld in Groenkloof met 40-17 geklop het.
Nico Luus en sy manne het die wedstryd van die begin af oorheers en uiteindelik ses keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier, terwyl Noordelikes net twee drieë kon druk.
Die wyse waarop Polisie voorlangs oorheers het, word ook weerspieël deur die feit dat vier van hul drieë deur voorspelers gedruk is.
Noordelikes het die wedstryd op ‘n verrassende manier begin toe hul linkervleuel, Sias van Wyk, binne vyf minute na die afskop deurgedraf het vir sy span se eerste drie. Polisie het hulle egter reggeruk en sewe minute later het hul hardwerkende slot, Jerry Sefoko, oorgeval vir sy span se eerste punte.
Daarna het Polisie begin oorheers en voor rustyd nog twee drieë gedruk. Noordelikes se enigste ander punte in die eerste helfte het gekom van ‘n strafdoel enkele sekondes voor rustyd. Die Bobbies het in die tweede helfte voortgegaan om te oorheers en nog drie drieë het gevolg, terwyl Noordelikes net een keer deur die tuisspan se hegte verdediging kon breek.
Met hierdie goeie oorwinning, waarin hulle volpunte op die puntelys verdien het, het Pretoria Polisie hul veldtog vroeg op koers gekry en hulle sal eerskomende naweek met selfvertroue opruk Vrystaat toe om daar teen die Bloemfontein Crusaders te speel.
