Local sportSport

Tukkies wys die Bulle hoe dit gedoen word

Tukkies se vertoning in Maandagaand se Varsitybeker wedstryd teen Maties het weer bewys dat daar niks fout is met die spelers in Pretoria se rugbyvermoë nie, maar dat top afrigting wel ’n verskil maak aan die wyse waarop hulle speel.

“Dís mos hoe rugby gespeel moet word!”

Hierdie opmerking is Maandagaand uit verskeie oorde gehoor deur mense wat Tukkies se puik vertoning teen die Maties in die Tuks Rugbystadion op die LC de Villiers sportkampus aanskou het. Tukkies het hul aartsvyand van Stellenbosch met 53-8 verniel.

Tukkies se vertoning was so naby aan die perfekte rugby as wat kan kom. Hoewel hulle laat in die tweede helfte effens stoom verloor het, was die Pretorianers regdeur die wedstryd in beheer en die manne van Stellenbosch het die rugbyles van hul lewe gekry.

Dit is veral die vertoning van Tukkies se pak voorspelers wat kenners opgewonde maak. Die hand van die ou meester, Pote Human, kan duidelik in die kliniese spel van dié pak gesien word. Human is met die huidige span van Tukkies weer besig om te bewys dat hy waarskynlik nie sy gelyke het as afrigter van voorspelerspel in Suid-Afirka nie.

Omdat Tukkies voorlangs die vaste fasette én die afbreekpunte oorheers het, kon hul agterlyn baljaar. Losskakel Joshua Stander het ’n netjiese vertoning gelewer en sy spel baie goed afgewissel, terwyl Tukkies se binnesenter, Dan Kriel, ook sy hand hoog opgesteel het vir Frans Ludeke om raak te sien. Voor sy besering het die opwindende heelagter, Duncan Matthews ook gewys dat die Bulle wel ’n teenvoeter vir die WP se veelgeroemde Cheslin Colbe het. Hopelik is Matthews se besering nie te ernstig nie, want dié jongman is op die punt om ’n deurbraak in sy rugbyloopbaan te maak.

Daar was inderdaad nie eintlik swak skakels in Tukkies se span nie. ’n Mens kon egter nie anders as om die puik spel van hul twee slotte, Irné Herbst en Reniel Hugo, asook die hardwerkendheid van die flank en kaptein, Wiaan Liebenberg, raak te sien nie. Liebenberg sal geen SuperRugby span in die steek laat nie, maar hy moet waarskynlik spesialiseer as blindekant-flank.

Die spel van Tukkies se twee slotte is ook iets om oor opgewnde te raak. Reniel Hugo is besig om te bewys dat hy reg is vir groter dinge en hy kan beslis die Bulle se volgende lynstaanmeester word. Sy slotmaat, Herbst, het ook sy spelkurwe ’n hele paar grade gelig sedert verlede jaar en daar is geen rede waarom hy nie ook vanjaar al SuperRugby kan speel nie.

  

PUNTEMAKERS:

TUKKIES: 53.   Drieë: Jannes Kirsten, Wiaan Liebenberg, Reniel Hugo, Roelof Smit, Dewald Human, Jermaine Kleinsmith, Nqobisiswe Mxoli. Doelskoppe: Joshua Stander (6).

MATIES: 08. Drieë: JP Lewis. Doelskoppe: ().

 

FNB UP-Tuks: 15. Duncan Matthews, 14. Riaan Britz, 13. Ryan Nell, 12 Daniel Kriel, 11. Jermaine Kleinsmith, 10. Joshua Stander, 9. André Warner, 8. Rudolf Smith, 7. Jannes Kirsten, 6. Wiaan Liebenberg (captain), 5. Reniel Hugo, 4. Irné Herbst, 3. Andrew Beerwinkel, 2. Jaco Visagie, 1. Juan Schoeman. Plaasvervangers: 16. Jan Enslin, 17. Nqobisiswe Mxoli, 18. Dennis Visser, 19. Clyde Davids, 20. Emile Temperman, 21. Dewald Human, 22. John Jackson, 23. Neethling Fouche.

 

FNB Maties: 15 Craig Barry, 14 Brandon Asher-Wood, 13 Christoff van Tonder, 12 Koos Loubser, 11 JP Lewis, 10 Brandon Thompson, 9 Jean Nel, 8 Kobus van Dyk, 7 Lungelo Chonco, 6 Beyers de Villiers, 5 Wilhelm van der Sluys (Captain), 4 Ian Groenewald, 3 John Hubert Meyer, 2 Marko Janse van Rensburg, 1 Niel Oelofse. Plaasvervangers: 16 Neethling Gericke, 17 Wesley Adonis, 18 Janco Venter, 19 Justin Benn, 20 Bjorn Bernardo, 21 Ernst Stapelberg, 22 Kyle Leibrandt, 23 JE van der Merwe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button