Local sportSport

Bulls terug op die wenpad teen Sharks

Die Bulls het hul ondersteuners nuwe hoop gegee vir die lang SuperRugby seisoen wat nog wag, nadat hulle die Sharks in 'n spannende stryd op Loftus Versfeld geklop het.

Die Bulls het Saterdagaand op Loftus Versfeld hul spelpeil ’n hele paar kerwe gelig teenoor die vorige twee weke en in die proses daarin geslaag om die Sharks met 43-35 te klop.

’n Bietjie geluk, baie meer karakter en baie minder onnodige foute. Dít is waarskynlik ’n akkurate opsomming van die Bulls se vertoning teen die Sharks, wat nie net die span se eie selfvertroue sal verbeter nie, maar ook aan hul ondersteuners nuwe hoop sal gee vir die res van die seisoen.

Terwyl die Sharks daarin kon slaag om teen die einde van die wedstryd terug te kom en selfs op ’n stadium voor te loop, het die Bulls van die begin af gelyk na ’n span wat met meer dringendheid speel en wou wen.

Die wedstryd het ’n paar vreemde verskynsels gehad, soos die feit dat daar in die 80 minute net drie vaste skrums was. Hierdie feit het waarskynlik tot die Bulls se voordeel gewerk, aangesien hulle die afgelope weke in dié faset gesukkel het, terwyl die Sharks verlede week teen die Lions baie goed geskrum het.

Daar was, soos in verlede week se wedstryd teen die Hurricanes, weer ’n omstrede voorval, maar hierdie keer was die geluk waarskynlik aan die Bulls se kant. Baie Sharks ondersteuners sal waarskynlik glo dat daar ’n vorentoe aangee was tussen Jesse Kriel en Francois Hougaard in die beweging wat tot Hougaard se drie gelei het. Die TV-skeidsregter, Johan Greeff, wat die Bulls waarskynlik verlede week van ’n oorwinning beroof het, het hierdie keer egter in hul guns beslis en teen rustyd was die Bulls gerieflik voor.

Die tweede helfte was egter ’n ware riller, soos net hierdie twee spanne kan oplewer. Die Bulls se karakter het hulle egter hierdie keer tot in die doodsnikke gehelp en die oorwinning is eers in die laaste twee minute van die wedstryd beklink.

Vir die Sharks het Pat Lambie en Pieter-Steph du Toit puik rugby gespeel, terwyl dit die Bulls se senior spelers was wat hierdie keer die voorbeeld gestel het. Matfield het ’n hele paar lynstaanballe gesteel, terwyl Pierre Spies en Adriaan Strauss ook heelwat beter gevaar het as in die eerste twee wedstryde van die seisoen.

 

Puntemakers:

BULLS: 43. Drieë: Francois Hougaard, Deon Stegmann, Pierre Spies, Jan Serfontein. Doelskoppe: Handré Pollard (3), Tian Schoeman (1). Strafdoele: Handré Pollard (4), Tian Schoeman (1).

HURRICANES: 35. Drieë: Ryan Kankowski, Cobus Reinach. Doelskoppe: Pat Lambie (2). Strafdoele: Pat Lambie (7).

 

Bulls: 15. Jesse Kriel, 14. Bjorn Basson, 13. JJ Engelbrecht, 12. Jan Serfontein, 11. Francois Hougaard, 10. Handrè Pollard, 9. Rudy Paige, 8.Pierre Spies (kaptein), 7. Lappies Labuschagne, 6. Deon Stegmann, 5. VictorMatfield, 4. Jacques du Plessis, 3. Trevor Nyakane, 2. Adriaan Strauss, 1. Mornè Mellett.

Plaasvervangers: 16. Callie Visagie, 17. Dean Greyling, 18. Marcel van der Merwe, 19. Grant Hattingh, 20. Hanro Liebenberg, 21. Tian Schoeman, 22. Travis Ismaiel, 23. Jurgen Visser.

 

Sharks: 15. SP Marais, 14. Odwa Ndungane, 13. Waylon Murray, 12. Andre Esterhuizen, 11. Lwazi Mvovo, 10. Patrick Lambie, 9. Cobus Reinach, 8. Ryan Kankowski, 7. Renaldo Bothma, 6. Marcell Coetzee, 5. Pieter-Steph du Toit, 4. Giant Mtyanda, 3. Jannie du Plessis, 2. Bismarck du Plessis (captain), 1. Dale Chadwick.

Plaasvervangers: 16. Kyle Cooper, 17. Thomas du Toit, 18. Lourens Adriaanse, 19. Marco Wentzel, 20. Jean Deysel, 21. Conrad Hoffmann, 22. Fred Zeilinga/Lionel Cronje, 23. Jack Wilson.

 Skeidsregter: Jaco van Heerden

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button