Bulls gee hul ondersteuners weer hoop
Dis nie noodwendig die feit dat die Bulls die afgelope naweek daarin kon slaag om die hoogaangeskrewe Sharks te klop wat aan hul ondersteuners nuwe hoop gee vir de res van die seisoen nie, maar eerder die wyse waarop dit gedoen is.

En daar bewys Pierre Spies en sy manne toe aan almal dat hulle wel kán rugby speel as hulle die dag lus voel. Binne die bestek van 80 minute het Spies en sy makkers hul meer as drie miljoen ondersteuners nuwe hoop gegee vir die res van die SupeRugby-seisoen, wat ‘n week gelede nog na ‘n versekerde komende ramp gelyk het. Hul oorwinning van 43-35 oor die Sharks het die Durbaniete boonop sonder enige ligapunte huistoe gestuur. Ná Saterdag sal daar baie menings wees oor waarom die Bulls skielik so drasties verbeter het. As die Bulls se vertonings in hul eerste drie wedstryde van die amptelike seisoen egter sonder emosie bekyk word, sal elke ondersteuner moet erken dat daar weekliks verbetering is sedert daardie eerste fiasko teen die Stormers. Soos Frans Ludeke en Pierre Spies tereg meer as een keer verlede week genoem het, was daar letterlik enkele milimeters tussen die Bulls en ‘n oorwinning teen die Hurricanes, wat natuurlik verwys na die omstrede drie van Grant Hattingh wat nie toegeken is nie. Sou ondersteuners minder geskel het as die Bulls daardie wedstryd wel deurgetrek het? Die een feit waaroor almal saamstem is dat die Bulls die afgelope Saterdag teen die Sharks vir die eerste keer gelyk het na ‘n span wat geestelik gereed is om wenrugby te speel. Daarmee saam het hulle baie minder ongedwonge foute gemaak en hul kanse ook beter afgerond. Een van die opvallende en verblydende kenmerke van dié wedstryd is die manier waarop senior spelers wat onder verdenking was, hierdie keer opgedaag het met duidelike motivering en fokus. Miskien is dit goed dat ondersteuners soms dreig met boikotte en dat die gehate media terselfdertyd reguit vrae vra oor die stand van sake. Dit het skynbaar hierdie keer gehelp om sekere manne uit hul gemaksones te haal en hul fokus terug te bring. Die wedstryd teen die Sharks het gewys dat die Bulls se huidige span wel besonder baie potensiaal het. Van nou af kan dit net beter gaan, ás die fokus behoue bly. Met die belowende jong vaskopstut, Hencus van Wyk, wat binnekort terug sal keer na die speelveld behoort die Bulls se voorry ook meer balans te hê met twee erkende vaskopstutte in die span. Marcel van der Merwe het teen die Sharks gewys dat hy reg is vir ‘n groot seisoen. Een van die verrassings in die wedstryd was die goeie vertoning van Rudy Paige op skrumskakel en die wyse waarop hy met sy voorspelers kon skakel op die aanval. Paige het ‘n groot verskil gemaak en kan seker verskoon word vir sy blaps wat tot Cobus Reinach se drie gelei het. Dit het in elk geval gelyk of Reinach dié bal uit ‘n onkant-posisie bekom het, wat perspektief gee aan Gary Gold en duisende Sharks-ondersteuers se klagtes oor die skeidsregter ná die wedstryd.
